Die 39-jarige vrou wat na bewering deur haar man met petrol gegooi en aan die brand gesteek is, is Dinsdag dood.

Standard het verlede week oor dié voorval berig (“Man verbrand sy vrou met petrol”).

Dié ma van drie is ná die voorval op 15 Januarie in die hospitaal opgeneem en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas weens die erns van haar brandwonde, wat glo oor 50% van haar lyf was.

Die oorledene se familie is Dinsdagoggend vroeg in kennis gestel dat sy ’n terugslag gehad het.

“Nadat die dokter ons gebel het, het ons reëlings getref dat haar kinders haar een laaste keer kon sien. Sy het ’n massiewe terugslag gehad. Haar hart en niere het ingegee,” het ’n tannie van die oorledene verduidelik.

Sy het gesê dit gaan “maar moeilik” met die familie, maar hulle is dankbaar vir die ondersteuning uit die gemeenskap om hulle.

“Ons doen ons bes om haar ma en kinders in hierdie tyd te ondersteun.”

Verder sê sy hulle as familie is baie bekommerd oor die drie kinders.

Die oudste, ’n 14-jarige seun, het gesien hoe sy pa na bewering die petrol oor sy ma gooi en dit aan die brand steek.

“Ons is baie bekommerd oor hulle. My seun het die kinders – nadat hulle van die hospitaal af gekom het – na ’n dokter geneem om ’n kalmeermiddel te kry. Ons moet net aanhou om hulle te ondersteun en by te staan, dus is ek so dankbaar vir die mense in die gebied wat hulle ook ondersteun en ek hoop van harte dat dit nie net vir ’n kort rukkie so gaan wees nie, maar dat die familie enduit bygestaan sal word.”

Die oorledene se man, wat ná die aanval weggehardloop en gaan wegkruip het, is verlede Donderdag in Paarl in hegtenis geneem.

Hy het Vrydag in die hof op ’n aanklag van poging tot moord verskyn. Hy sou gister (Woensdag 26 Januarie) vir ’n borgtogaansoek verskyn, maar volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, sal hy ingelig word dat die klag van poging tot moord na moord verander. ’n Nuwe hofdatum sal dan bevestig word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article