Terwyl die weerlig Saterdag skouspelagtig deur die vallei getrek het, het dit verwoesting gesaai toe ’n huis se dak in Fairway Heights raak geslaan is.
Vanessa en Pieter Eksteen moes Saterdag bontstaan om seker te maak dat ’n brand, wat veroorsaak is deur die weerlig se trefslag, nie verder versprei nie.
Vanessa vertel aan Standard hoe al haar bure in Masters Way gehelp het om meubels uit te dra sodat dit nie brand nie. Hulle het ook water gespuit, en as dit nie vir hul bure se hulp was nie, sou die skade baie erger gewees het.
Volgens Vanessa het hulle langs die skoorsteen in die huis gestaan toe die weerlig die skoorsteen tref. Sy beskryf dat hulle ’n wit flash gesien het en dit het soos ’n deur wat hard toeklap geklink.
“Gelukkig het niemand seergekry nie en ek is dankbaar daaroor,” sê sy.
Die Eksteens was sonder krag, daar is skade aan die dak en vloere en die dak moet vervang word.. Die Eksteens spreek hul opregte dank uit teenoor die buurt se inwoners en almal wat hand bygesit het.





