Dit was die afgelope naweek 75 jaar sedert Klara Majola, die agtjarige meisie wat na haar blinde pa gaan soek het, in die veld verkluim het. Haar verhaal is een van dapperheid wat ‘n volkslegende geword het wat aan duisende jong Suid-Afrikaanse kinders vertel is.
Die hartseer gebeure het afgespeel op ‘n plaas buite Prince Alfred Hamlet aan die voet van die Witzenberg naby Ceres.
Volgens die Ceres-museum was Klara die tweede oudste kind van April Majola en Maria Jansen, wat in die gemeenskap as Lemmie en Agnes bekend was. Klara se amptelike naam was Violet Jansen.
Haar ouers het in 1945 saam met Ernst van Dyk na die plaas Die Eike getrek, waar hulle in ‘n hartbeeshuisie ‘n ent van die plaaswerf af gewoon het. Lemmie was ‘n goeie skeerder en het in die boorde gewerk. Hy het egter met sy oë begin sukkel en het binne maande sy sig verloor. Hoewel hy nie meer veel kon werk nie, het hy op die plaas aangebly en het dikwels vuurmaakhout gaan haal.
Op 25 Julie 1950 was hy egter teen skemer steeds nie tuis nie. Sy vrou was bekommerd omdat dit so koud was. Klara, geklee in haar ma se dik groen jas en sonder skoene, het besluit om na haar pa te gaan soek. Lemmie het egter ‘n halfuur later by die huis opgedaag. Die egpaar was bekommerd, dit het al kouer geword en daar was geen teken van Klara nie. Hulle het deur die nag na haar gesoek – dit het begin reën en die kapok het harder geval.
Teen ligdag was Klara steeds weg en Lemmie het alarm by Van Dyk gaan maak. Dié het ‘n soekgeselskap uitgestuur en die plaasbestuurder, Martin de Preez, het vir Klara gekry waar sy halfpad in die water op haar maag lê, met die jas ‘n entjie van haar af. Sy was reeds dood. Daar is vermoed dat sy in die moerasagtigheid van die stroompie gegly en geval het. Sy het moontlik van uitputting bly lê waar sy verkluim het.
Klara is in die kerkhof op die plaas begrawe. Om die inwoners aan haar dapperheid te herinner, is daar ‘n standbeeld van haar in Ceres deur die kunstenaar Pieter de Villiers, en in die Ceres-museum is daar ‘n bronsbeeld.






