Ronél van Jaarsveld
‘n Man van Roberston het verlede Dinsdag (15 April) net voor middagete onder ‘n trein beland en ernstige beserings opgedoen. Die voorval was helder oordag op die spoorlyn oorkant die Robertson-polisiekantoor.
AO Joseph Swartbooi, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie was op die toneel en die saak word ondersoek.
“Volgens verslae is die man omgery deur ‘n trein wat in die rigting van Worcester na Roberston gery het. Mediese personeel het na die beseerde man omgesien en hom na ‘n nabygeleë hospitaal geneem,” het hy gesê.
Hy het gevra dat ooggetuies of mense met inligting oor die voorval die polisie skakel.
Die polisie het nie enige verdere inligting oor die man bekend gemaak nie. Hulle het gerugte dat die man aan sy beserings beswyk het, weerlê en gesê hy sterk in ‘n plaaslike hospitaal aan.
Inwoners het op sosiale media beweer die man is ‘n hawelose.




