Danie Visser in die kryt
Danie Visser (links) het die afgelope naweek ‘n taai geveg teen Jaco van Niekerk in Moer ‘n Boer verloor. Foto’s: Facebook/Moer ‘n Boer

Die twee boere van Worcester en Wolseley wat die afgelope Saterdag (20 September) aan die Moer ‘n Boer-kompetisie in Pretoria deelgeneem het, is effe blou en seer, maar andersins heelhuids deur hul gevegte.

Die 34-jarige Danie Visser, wie se bynaam vir die gevegte “Giggelvrug” was, boer met sitrus, wyndruiwe en ander gewasse in die Nuy-vallei buite Worcester. Hy het sy geveg teen Jaco van Niekerk “Tuli Blok” van Botswana verloor.

Daniël Müller (27), wat buite Wolseley met groente boer, het drie taai rondes teen Lucas de Kock van Nelspruit in die kryt gehad, maar het uiteindelik geseëvier.

Daniel Muller
Daniël Müller het ná drie rowwe rondes teen Lucas de Kock as wenner uit die kryt getree.

Müller, wie se krytnaam “Mannetjiespou” was, se fiksheid het hom uiteindelik die oorhand gegee in ‘n geveg waarin die twee teenstanders net soveel uitgedeel het as wat hulle ontvang het.

Müller en Visser het voor die gevegte meer oor gevegskuns geleer en hul fiks­heid by die Titans Mixed Martial Arts Studio in die Paarl verskerp, waar hulle deur Riaan Pieterse afgerig is.

As deel van die Moer ‘n Boer-program het hulle ook ‘n sessie saam met die wêreldbekende afrigter Morné Visser, mentor van die Ultimate Fighting Championship-kampioen Dricus du Plessis, gehad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article