Montagu en die omliggende omgewing is gisternag (5 Februarie) deurdrenk deur ‘n welkome bui reën in ‘n tyd wat streng waterbeperkings in die Langeberg-munisipaliteit geld. Laagwaterbruggies in die dorp het egter oorspoel en van die plase het skade aan hul ingange.
Volgens berigte het Montagu sowat 20mm reën ontvang en Bonnievale 6mm. Plase in die omgewing van Rietvlei het vanoggend 70mm uit hul reënmeters gegooi.
Roberson het ook deur die nag ‘n goeie bui reën gekry met so 10mm in hul reënmeters vanoggend. Volgens inwoners het daar ongeveer 15mm in die damme se opvangsgebied geval.

Volgens Mareletta Munday van die Montagu-Ashton Toerismevereniging, is die oorsaak van die vloede in Montagu nie die reën wat in die dorp geval het nie, maar wel die buie wat in die Joubertskloof en Ouberg-omgewing uitgesak het. Die Keisierivier was vroegoggend in vloed gewees, maar daar is moontlik nog water op pad uit die Kignarivier omdat heelwat reën glo in sy opvangsgebied geval het.

Hoewel van die laagwaterbrûe vanoggend ontoegangklik was, het opruimingswerk vroeg reeds begin.
Navrae is aan die Langeberg-munisipaliteit gestuur om uit te vind of dié reën ‘n impak op die dorp se damvlakke, wat krities laag is, behoort te hê.
Reën, gepaard met donder en blitse, het wyd oor die Wes-Kaap geval, maar meeste plekke het net ‘n natmakertjie van ‘n paar millimeter ontvang.







You must be logged in to post a comment.