Vergeet vir eers van ’n peperduur gryswaterstelsel vir jou huis. Jacques Marais van Worcester het dié eenvoudige stelsel prakseer om die water van die wasmasjien, bad en wasbakke reguit grasperk toe te herlei. Dit het hom nie eers R250 gekos nie.
Identifiseer al die plekke in jou huis waar die water wat uitloop hoër is as jou grasperk, sodat gravitasie die werk kan doen.
Meet dan die dikte van die afvoerpype buite die huis en gaan na ’n besproeiingsonderneming om die regte lasse te koop. ’n Kraan moet gebruik word om die vloei van water na die munisipale afvoerstelsel af te sny, sodat dit deur ’n tuinslang na jou grasperk herlei kan word. As jy klaar natgemaak het, draai die kraan weer oop.
Sorg dat die tuinslang wat jy by die wasmasjien se uitlaat gebruik dik genoeg is om die water wat vinnig uitgepomp word, te kan hanteer. ’n Doodgewone tuinslang is egter reg vir water wat uit ’n wasbak of bad vloei.




