Die foto wat in verlede jaar geneem is nadat inwoners ‘n petisie geteken het, wys hoe lank die toue vir UIF-aansoeke is.

Departement van arbeid laat Robertson in die steek

Die foto wat in verlede jaar geneem is nadat inwoners ‘n petisie geteken het, wys hoe lank die toue vir UIF-aansoeke is.

Aanspraakmakers op die werkloosheidsversekeringsfonds (UIF) in Robertson en omgewing was verlede week erg ontsteld toe sowat 200 begunstigdes sonder dat hulle gehelp is, moes terugdraai huis toe – dít omdat amptenare van die departement van indiensneming en arbeid wat hulle moes bedien tydens middagete glo die pad gevat en nooit weer teruggekeer het nie.

Die begunstigdes sluit onder andere bejaardes en swanger vroue in.

Volgens Danny September, raadslid van die Langeberg Independent Party in Robertson, moes begunstigdes van die Robertson-streek en omliggende plase op 20 Julie en 21 Julie by die gemeenskapsaal in Robertson aanmeld sodat die amptenare hulle kon help met onder meer hul aansoeke vir die werkloosheidsversekeringsfonds.

Hy sê op 20 Julie het die drie amptenare wat die begunstigdes moes help eers teen 09:15 by die gemeenskapsaal opgedaag. Volgens hom het die amptenare teen 12:00 die perseel verlaat omdat hulle glo ‘n vergadering moes bywoon. September sê net 15 bejaardes is op die betrokke dag gehelp.

Volgens September het die betrokke amptenare diegene wat op 20 Julie nie gehelp is nie belowe dat hulle die volgende dag gehelp sou word en dat hulle tot 16:00 sal aanbly. September sê teen 13:30 het die amptenare die perseel verlaat.

“Dié mense [begunstigdes] kom van ver. Hulle moet private karre huur om tot hier te kom, dan word hulle nie eens gehelp nie. Mense kom met hul jong kinders hier aan omdat hulle nie oppassers kan bekostig nie. Hulle wag al van soggens vieruur hier voor die gemeenskapsaal.”

September sê Bernice Kiewiets, een van die begunstigdes, het vanaf 04:00 saam met haar twee kinders van onderskeidelik drie jaar en 11 maande voor die gemeenskapsaal gewag.

Volgens September is daar ook geen kontrole in plek nie. Hy sê baie begunstigdes wat op die eerste dag nie gehelp word nie en op die tweede dag terugkeer, word weer eens nie gehelp nie omdat dié wat eerste opdaag eerste gehelp word.

“Hier sal defintief ‘n permanente kantoor moet wees, of vir eers ‘n satellietkantoor sodat meer mense gehelp kan word. Die kantoor moet oop wees van Maandag tot Vrydag. Hulle kan nie net twee dae kom nie. Dan is daar honderde mense wat nie gehelp word nie,”sê September.

“Hulle moet ook meer mense aanstel. Hulle kom hier aan met twee tot drie amptenare. Dis verregaande.”

Standard Breederivier Gazette het by die departement van indiensneming en arbeid navraag gedoen. Teen druktyd het ‘n woordvoerder, Teboho Thejane, nog nie op navrae gereageer nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article