‘n Vyftienjarige seun van Roodewal in Worcester moes op die ouderdom van 13 jaar ‘n heup- vervangingsoperasie ondergaan nadat beenmurgkanker in 2024 by hom gediagnoseer is.
Aanstaande maand (Augustus) is Luzemian Jacobs ‘n volle jaar reeds kankervry. Dit, ten spyte van al die uitdagings waardeur hy sedert sy diagnose in die gesig gestaar is.
Beenmurgkanker-bewusmakingsmaand word jaarliks wêreldwyd in September gevier.
Volgens Luzemian se ma, Lowlanda (35), het die kankerdiagnose gekom nadat hulle in Augustus 2024 ‘n groot knop “so groot soos my hand” aan Luzemian se linkerheup ontdek het. Sy sê voor die knop ontdek is, het Luzemian ‘n ruk lank ongemaklik rondbeweeg. Volgens haar het haar seun egter nooit daaroor gekla nie.
Lowlanda vertel dat sy Luzemian aanvanklik na die Worcester-daghospitaal geneem het waar X-strale geneem is. Volgens haar was die X-strale “skoon”, waarna Luzemian antibiotika toegedien is. Sy sê die betrokke medikasie het niks gehelp nie.
Volgens haar is sy hierna met Luzemian na ‘n private dokter wat hulle na Worcester Mediclinic verwys het. Sy sê nadat verskeie toetste op haar seun gedoen is, het sy die skoknuus ontvang dat haar middelkind beenmurgkanker onder lede het.
“Ek kan nie daardie gevoel beskryf toe ek hoor my kind het kanker nie. Dis asof die universe teen jou is. Dis nie goeie nuus om te onvang nie – veral as jy boonop nog ‘n enkelouer is. Ek het nie geweet hoe om hom te vertel hy het kanker nie. Ek het maar in die badkamer gaan huil waar hy my nie kon sien nie.”
Bybetaling gedoen
Volgens Lowlanda is Luzemian onmiddellik in die Worcester Mediclinic opgeneem. Sy sê die kanker was rondom sy linkerheup. Volgens haar het haar seun in September 2024 met chemo-terapie by Mediclinic in Cape Gate begin. Sy sê sy moes ‘n bybetaling van 30% doen.
Lowlanda sê in Februarie 2025 was dit veilig om Luzemian se heup te vervang. Volgens haar het die operasie sewe uur in die Vincent Palotti-hospitaal geduur. Sy sê Luzemian se chemoterapie is in Maart 2025 hervat.
Volgens Lowlanda hat haar seun kort hierna ‘n terugslag gekry toe die wond oopgegaan en hy infeksie opgedoen het. Die ma sê toe dit gebeur, het sy haar kind onmiddellik na die Vincent Palotti-hospitaal teruggeneem.
Volgens haar het mediese personeel haar meegedeel dat Luzemian die risiko geloop het om sy been te verloor. Sy sê in April / Mei is die chemoterapie hervat. Volgens haar het Luzemian chemoterapie ontvang tot in die derde week van Augustus 2025.
Op 28 Augustus, bel die dokter haar met die nuus dat Luzemian “kankervry” is.
Lowlanda sê nog ‘n uitdaging wat Luzemian in die gesig gestaar het, was die rioolwater wat gereeld voor hul voordeur opgedam het. Sy sê elke keer wanneer hulle terugkeer van die chemoterapie, dan borrel die drein oor.
“Ek en hy moet dan deur die riool stap om by die huis uit te kom. ‘n Dag of twee later, dan word Luzemian weer siek. Dié keer van die riool.
Terug skool toe
“Twee maande voor ons gehoor het Luzemian is kankervry het ek en hy vir sy eie gesondheid by ‘n vriend van my in Zwelethemba gaan woon. Daar (by die vriend se huis) is darem ‘n spoeltoilet en elektrisiteit is nie ‘n probleem nie. Daar is ook nie die probleem van riool nie.
Volgens Lowlanda gaan dit deesdae goed met haar seun. Sy sê hy het vanjaar vir die eerste keer sedert Augustus 2024 teruggekeer na die Worcester-vaardigheidskool waar hy ‘n leerder is.
Luzemian sê aan Standard & Breederivier Gazette dit is goed om weer terug by die skool te wees. “Ek het geen pyn ná die operasie nie. Ek voel ook nie ongemaklik nie. Ek voel net bietjie hartseer omdat ek nie meer rugby en sokker kan speel nie.”
Volgens Lowlanda sit sy tans met ‘n hospitaalrekening wat meer as R170 000 beloop.
“Ek weet nie hoe ek dit gaan maak nie, maar ek probeer nie daaroor stres nie. Solank my kind fine is, kan hulle my maar toegooi onder die rekeninge.”



