Die groot lokomotief wat stadig by die stasie instoom, het die afgelope Saterdag (21 Junie) tot groot opwinding in Worcester gelei.
Angelique, die stoomlokomotief van New Cape Central Railway (NCCR), was – nes Sonja Heroldt se liedjie van ouds – die trein na Matjiesfontein.
NCCR het ‘n gereelde roete tussen Robertson en die Nuy-vallei, maar die stoomtrein is nie ‘n bekende gesig in Worcester nie. NCCR het Saterdag die roete as toetslopie na Matjiesfontein gebruik.
Dit kan dalk eersdaags wel ‘n algemene gesig in die dorp word. Volgens Derick du Toit van NCCR is hulle in samesprekings met die Kleinplasie-museum in Worcester en die Breedevallei-munisipaliteit om die treindepot by Kleinplasie weer in gebruik te neem. Dié depot is lank gelede deur NCCR gestig en dit is deel van planne om sy roetes uit te brei.
Die NCCR het ‘n ryk geskiedenis, gewortel in die era toe treine ‘n groot rol in die vervoer van beide passasiers en vrag vervul het. Die Cape Central Railways het die spoorlyn van Worcester na Voorbaai by Mosselbaai in 1883 begin bou. In 1893 het NCCR, die laaste spoorlynmaatskappy in private besit, die bou van hierdie spoorlyn voortgesit. Die lyn het Mosselbaai op 25 Julie 1907 bereik – ten spyte van verwoesting wat deur oorlog en oorstromings aangerig is.
Du Toit het die NCCR in 2020 laat herleef – 127 jaar nadat dit gestig is – en toeriste geniet deesdae die mooi vistas wat die Breedevallei bied vanuit die stoomtrein, wat ook as die wyntrein bekend is. Hierdie stomende staalkolosse laat iets van die romantiek van vergange dae se vervoer herleef.
By die besoek aan Worcester het die lokomotief in die rangeerwerf by Meiringspark gestaan, terwyl diesellokomo-
tiewe die waens verder Matjiesfontein toe geneem het. Volgens Du Toit mag hulle volgens regulasies nie met die stoomtrein deur die tonnels ry nie.
Die lokomotief Angelique is ‘n klas 19D-stoomlokomotief, wat uit die jare 1937 tot 1942 dateer, en is na Du Toit se vrou vernoem. Hy sê hulle maak werk daarvan om ‘n lokomotief en waens
permanent in Worcester te vestig.







