Die riool stoot daagliks op in die vier erwe wat direk agter mekaar sit. Rou riool het Maandag (4 April) met Standard se besoek weer in die buurmense se erwe opgestoot. Foto: Dominique Jeftha


Twee buurmanne van Stynderstraat in Roodewal, Worcester, sit met die hande in die hare oor ’n voortdurende rioolprobleem.

Volgens Solly Kock en pastoor Sampie van Rhyn van Stynderstraat 123 en 121 is hulle moeg vir die daaglikse stank. Die buurmanne sê hulle staar die afgelope maand al rioolprobleme in die gesig en sukkel om die munisipaliteit te kry om vinnig op te tree om dit op te los.

Kock sê riool stoot die afgelope maand elke dag in sy agterplaas op wanneer iemand ’n toilet spoel.

“Ons bel en hulle antwoord nie. Hoekom word dit as normaal beskou as dit by ons buurte kom? Ons het die regte kanale gevolg deur die probleem aan te meld, maar nou sloer dit en intussen stoot die rou riool elke dag in ons erwe op,” kla Van Rhyn.

Van Rhyn se dogter sê sy is moeg daarvoor, want die rioolprobleme word net nie permanent opgelos nie.

“Elke keer as ek bel, vat hulle my nommer, maar niemand bel terug nie,” sê sy.

Sy sê in verkiesingstyd “soek hulle stemme” maar in tye van nood moet mense tevrede wees met verskonings.

Volgens Kock het die munisipaliteit ’n tydelike pyp by sy erf aangebring sodat die rioolwater direk straat toe in die sloot af kan loop, maar die riool stoot steeds in sy agterplaas op.

Volgens JP Myburg, kommunikasiebeampte vir die BVM, is die munisipaliteit se superintendent bewus van die klagte oor die riool. Hy sê die munisipaliteit kan nie daar werk nie aangesien wendyhuise op die hoofrioollyn opgerig is en die pype moet oopgegrawe kan word.

“Twee van ons bestuurders het die twee eienaars van die wendyhuise versoek om die wendyhuise te verwyder of te skuif sodat hulle die lyn kan diens. Tot op hede, volgens die bestuurders, is dit nog nie gedoen nie.”

Hieroor sê Kock: “Hulle het vir ons gesê as die man wat daar woon, die hok afbreek, gaan hulle onmiddellik kom om die werk te doen. Die man het sy hok Vrydag 1 April afgebreek, maar hulle het teen vandag (Maandag 4 April) steeds nie opgedaag nie.”

Myburg sê die BVM kan ook nie net afbreek nie, maar hulle is besig om na ’n proses te kyk om hul behuisingsdepartement te betrek om aksie te neem.

“Ons pleit weer eens by die bewoners om eerder die huise te skuif. Hulle is bewus dat toegang tot daardie stelsels noodsaaklik is om hul probleme op te los,” sê Myburg.

Die twee buurmanne het egter Maandag (2 April) aan Standard die plek verder af in die pad gewys waar die wendyhuis, wat reeds afgebreek is, nou staan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article