Pasiënte wat in die nuwe pediatriese eenhede vir brandwonde in Worcester opgeneem word, sal in dié bekwame verpleegpersoneel se hande wees. Johrique Kelly, Abrey Arendse (bedryfsbestuurder), Ilona February en Christeline Snyman.

‘n Kleuter wat ‘n kokende ketel van die toonbank aftrek; ‘n 10-jarige wat in ‘n huisbrand beseer is …

Beserings as gevolg van brandwonde kan in ‘n oogwink gebeur en die herstelpad is dikwels lank en pynlik met ‘n blywende uitwerking.

Die behandeling van kinders met brandwonde in die Kaapse Wynlande is aansienlik makliker danksy twee nuwe eenhede vir pediatriese brandwonde, wat op Maandag 10 November by die Worcester-gemeenskapsdaghospitaal en die Worcester-hospitaal geopen is.

Jong pasiënte van oor die Wes-Kaap heen het voorheen spesialisbehandeling by die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad ontvang. Dit het egter aansienlike uitgawes en uitdagings vir families meegebring. Tydens die opening van die Wynland se eerste pediatriese brandwond-eenheid in Ceres in Julie, het die ma van ‘n beseerde kind vertel dat hul reiskoste na Kaapstad R1 400 beloop het, maar van die plaas waar hulle woon het dit slegs R17 gekos Ceres toe. Dit maak ‘n beduidende verskil in die lewe van veral arm gesinne.

Elke eenheid is met ‘n speelgebied toegerus om die herstelproses so maklik as moontlik vir pasiënte en hul ouers te maak.

Die nuwe eenhede se mure is vrolik geverf met die temas van superhelde en onderwatertonele. Dit is ook toegerus met speelgebiede. Kinders met brandwonde sal deur die hospitaal na die eenheid, wat in die kindersaal geleë is, verwys word sodat die pasiënte so gou as moontlik pynmedikasie en behandeling kan ontvang.

Goeie samewerking tussen die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand, die Children’s Hospital Trust en ander rolspelers, het tot die vestiging van dié pediatriese brandeenhede gelei om wêreldklas-sorg aan kinders in die Wynlande te bied. Die trust het R18 miljoen belê om die drie eenhede te vestig en die projek is ten volle deur skenkers gefinansier, wat die konstruksie,

aankoop van mediese toerusting en opleiding vir die behandeling van erge brandwonde vir verpleegpersoneel en gesondheidswerkers dek.

Gesondheidswerkers van oor die distrik heen het ook spesialis-opleiding ontvang om vinnige behandeling vir jong pasiënte te verseker.

Die Rooikruis-hospitaal behandel jaarliks sowat 1 000 pasiënte in die hospitaal en 4 000 buite-pasiënte. Die nuwe eenhede in Ceres en Worcester sal dié las aansienlik verlig aangesien dit tot minder oponthoude sal lei.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article