Ná bykans 29 maande se leemte weens die Covid-19-pandemie is Worcester Arbeidsbediening weer sterk besig met sy heropbou-program.
Wat is Arbeidsbediening se doel?
. Om met die hele kerk van Christus, saam met plaaslike gemeentes en ander bedienaars, in die werksplek verteenwoordig en betrokke te wees;. Om die waardes en deugde van God se koninkryk tussen werksmense te help verkondig, spesifiek ook gerig op hulle behoeftes en uitdagings; en. Om ’n gewete vir die markplek te wees.. Die arbeidsbediening bring die volgende na die werkplek:
– Woordbediening;
– Ondersteuning en motivering aan personeel; en
– Verwysing na kundiges vir moontlike berading en ander behoeftes.
Hulle kondig ook met opgewondenheid en dankbaarheid aan dat 48 ondernemings met 100 besoekpunte en 24 vrywilligers (bedienaars) deel van hul dienste is. Daar is 6 420 mense in hulle werksplekke besoek en bedien deur 320 verskillende boodskappe. Hulle het onder meer ook Arbeidsbediening-lofliedere saamgestel wat personeel gebruik tydens bedieninge.
Intussen is Gassie Carstens, een van Worcester se plaaslike komitee-bestuurslede, tot Industrial Ministry South Africa (IMSA) se uitvoerende komitee van die Wes-Kaap verkies.
Gassie het reeds in 1982 by Arbeidsbediening (ook genoem Nywerheidsbediening) aangesluit. Hy is ook reeds so vroeg as 1984 as voorsitter verkies, ’n posisie wat hy vir ’n tyd beklee het. Die laaste klompie jare (voor Covid) was hy verantwoordelik om Arbeidsbediening in Worcester te organiseer en dit het hy vanuit sy kantoor gedoen.
Worcester Arbeidsbediening is dus opgewonde om iemand uit Worcester op die Wes-Kaapse uitvoerende komitee te hê.
Hulle nooi ondernemings uit om gratis deel te word van Arbeidsbediening. Navrae kan gerig word aan Kobus van den Bergh by arbeid8@gmail.com.


