’n Ere-stoet beweeg deur Hoogstraat nadat talle rolspelers in die gemeenskap, kollegas en vriendeDe Vos se lyk van Kaapstad na Worcester vervoer het.Foto: JP Myburg


Talle inwoners is in rou gedompel nadat die geliefde en welbekende paramedikus en besigheidsman van Worcester, Tiaan de Vos, twee dae voor sy 33ste verjaardag oorlede is.

De Vos was ’n bekende en gerespekteerde persoon wat diep spore gelaat het. Die nuus van sy afsterwe op Vrydag 25 November het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Volgens De Vos se vrou, Kathleen, is hy in die hospitaal opgeneem weens ’n hartkwaal.

“Hy het ’n virus op die hart ontwikkel wat toe na die res van sy organe versprei het. Hy is 01:40 Vrydagoggend van ons af weggeneem.”

De Vos se lyk is Maandag 28 November met ’n ere-stoet van Kaapstad na Worcester gebring. Talle rolspelers in die gemeenskap, paramedici, veiligheidsbeamptes en wetstoepassers het die stoet begelei.

De Vos is in Worcester gebore en het van kleintyd af ’n passie gehad om ander te help en het toe ’n loopbaan as paramedikus gevolg. Hy het later ook die titel “besigheidseienaar” tot sy CV gevoeg en het tot sy afsterwe sy besigheid, Priority Care-ambulansdienste, bestuur.

De Vos het ook nou saamgewerk met plaaslike sekuriteitsfirmas en veiligheidsinisiatiewe soos die Breedevallei Plaaswag, plaaslike buurtwag-groepe, G24-sekuriteit en Vetus Schola, waar hy mediese krisisse oorsien het.

Sy vriend en kollega Nico Harmse het aan Standard gesê die afsterwe van sy vriend is ’n geweldige skok en laat ’n groot leemte.

“Ons ken mekaar nou al so vyf jaar en het regtig goeie vriende geword. Tiaan was ’n ware vriend en het altyd gesê wat gesê moet word en nie noodwendig wat ander wil hoor nie. Ek sal hom altyd onthou as ’n pel wat daar was vir my – maak nie saak wat die tyd (van die dag) was nie. Hy het my en ander geleer om ook net eie aan jouself te wees en jou lewe so te lei.”

Sy vrou vertel dat sy, hul drie kinders en die familie, nes die breë gemeenskap, stukkend is.

“Ek voel regtig hartseer. Hy wou net ’n verskil maak en lewens red. Almal was dieselfde in sy oë. Ons kan net probeer om sy nalatenskap vorentoe te neem en hom trots te maak. Hy het elke mens met respek behandel. Sy dood voel soos die einde van my wêreld,” sê sy.

Sosiale media het oorgeloop met huldeblyke om sy lewe te vier. Breedevallei-munisipaliteit se burgemeester, Antoinette Steyn, het ook ’n boodskap van medelye op haar sosiale media gedeel.

“ ’n Mens sê altyd so min as mense lewe en het soveel te sê as iemand sterf. Dankie vir alles, Tiaan de Vos. Jy was altyd daar vir ons gemeenskap en sy mense. Ek weet jy is met daardie groot smile nou in die hemeltuin. Dankie vir jou menswees en dat jy ons mense gedien het. Daar is nie baie harte wat so omgee soos wat jy gedoen het nie.”

De Vos sal Vrydag 2 Desember om 14:00 uit die Worcester Vallei-kerk in Tulbaghstraat ter ruste gelê word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article