Talle mense het afskeid geneem van die geliefde en gerespekteerde balju van Worcester, Simon Hugo Kilian (70), oftewel Basie, soos talle hom geken het.
Kilian, wat al bykans vier dekades lank die balju van Worcester was, is op 22 September ná ’n kort siekte oorlede nadat hy aan natuurlike oorsake weens sy hart in ’n plaaslike hospitaal oorlede is.
Lolla Nefdt, kantoorbestuurder by die plaaslike balju, vertel sy het sedert 2007 nou saam met Kilian gewerk.
“Hy was ’n fantastiese mens. Hy was ’n mentor en het altyd geweet hoe om ’n mens goed te laat voel. Hy het soveel lewens geraak en hy was bitter goed vir my,” verduidelik Nefdt.
Die nuus van sy afsterwe het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
“Dit was vir ons ’n groot skok. Hy is onlangs in die hospitaal opgeneem en is weer ontslaan. Hy is daarna weer opgeneem, maar het ongelukkig in die hospitaal gesterf. Dis steeds moeilik om te verwerk.”
Kilian, wat sy matriekloopbaan aan HTS Drostdy voltooi het, het by sy pa, Potjie, die leisels oorgeneem by die baljukantoor (die destydse geregsbode) en het ’n passie gehad vir wat hy gedoen het.
Kilian was ook aan die stuur van sake by die Christelike Afhanklikheidsdiens (CAD) en het deur sy eie struikel met alkoholmisbruik in sy jonger dae hier ander gehelp en gelei. Hy was nie net Worcester se voorsitter nie, maar het ook provinsiaal en nasionaal aan die hoof van hierdie organisasie gestaan.
In Hugo se eie getuienis het hy al gepraat van hartkwale toe hy jonger was. Sy seun, Hugo, vertel dat sy afsterwe ’n groot leemte laat, hoewel hulle as familie daarop voorbereid was.
“Hoewel die dood van ’n geliefde altyd ’n groot, onverwagse skok bly en ’n groot leemte laat wat nooit ooit weer gevul sal kan word nie, was ons in ’n mate redelik voorbereid op die ergste. Hartversaking is in Mei by my pa gediagnoseer, maar hy was nog steeds voltyds aktief betrokke by sy werk as balju.
“In September is ons deur sy dokter meegedeel dat hulle werklik met hul rug teen die muur staan en daar nie medies gewys iets is wat hulle verder vir hom kon doen nie. Ten spyte van die beste sorg moontlik het sy toestand vererger en het ons naaste familie en kleinkinders die geleentheid gehad om tyd saam met hom deur te bring voor sy afsterwe.”
Kilian en sy vrou, Ronél, was vanjaar ook 48 jaar getroud en het twee kinders in die lewe gebring, Hugo en Rozél Pienaar. Rozél is tragies in 2004 weens leukemie oorlede. Hulle het ook vier kleinkinders.
“Ons wil graag vir dr. Louis van Zyl en die MediClinic-personeel vir hul bystand bedank. Dankie ook vir al die gebede, besoeke, ondersteuning en boodskappe,” voeg Hugo by.





