Arbeidsbediening Worcester (WAB) is weer aan die gang en die nuwe bestuurskomitee bied hul dienste aan ondernemings in die Vallei.
WAB doen evangelisasiewerk in die werksplek. Die organisasie het reeds in 1897 in die Wes-Kaap ontstaan met die verkondiging van die Evangelie onder seelui in die hawens. Later jare het dit al met die spoorlyn, veral by stasies, versprei. Tans word dit in die hele land bedryf.
WAB is baie goed in die Wes-Kaap georganiseer. Bedieningskomitees met vrywilligers in verskeie dorpe is aktief besig om mense in en om die werkplek te bedien. Hoewel die NG kerk die beskermheer daarvan is, word dit deur die meeste van die verskillende denominasies ondersteun.
Arbeidsbediening in Worcester bestaan al baie jare, maar die Covid-pandemie het ’n groot negatiewe invloed gehad deurdat personeel in die sowat 74 werkplekke wat gereeld bedien is, nie meer bedien kon word nie en alles tot stilstand gekom het.
Vroeër vanjaar is ’n nuwe bestuurskomitee vir Worcester saamgestel en ’n herontplooiingsprogram is later begin. Tans neem sowat 40 ondernemings deel en ontvang besoek van 21 bedienaars.
Volgens die organisasie het hulle ten doel:
- Om die waardes en deugde van God se koninkryk tussen werksmense te help verkondig, spesifiek ook gerig op hulle behoeftes en uitdagings en.
- ’n gewete vir die markplein te wees.
Hulle bring die volgende na die werkplek:
- Woordbediening,
- programme na gelang van die werkgroep/werkgewer en personeel se behoeftes,
- ondersteuning en motivering aan personeel, en
- verwys sake na bestuur en deskundiges vir moontlike bystand en berading.
Prosedures en werkwyse.
- WAB werk saam met Christelike kerke en streef na ’n eenheidsbediening.
- WAB wil die kerke se hande ondersteun deur die evangelie van Jesus Christus aan individue wat dalk nie in ’n kerk kom nie, te bring.
- Mense wat die Woord en kort boodskappe bring, is vrywilligers en is nie verteenwoordigend van enige kerkgroep of denominasie nie.
- Ondernemings wys ’n dag en tydgleuf aan wat die personeel die beste pas asook hoeveel besoeke hulle per maand wil hê.
- Besoeke duur 10 tot 15 minute.
- Navrae kan gerig word aan Kobus van den Bergh by arbeid8@gmail.com



