WORCESTER – Drie jaar ná die moord op ‘n boervrou van die Ceres-Karoo is twee van haar moordenaars in die Worcester-streekhof tot 42-jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Willem Olivier (52) en Kelvin Vlok (24) het vroeër skuld beken aan die grusame moord op die 77-jarige Christina Walters op 4 Maart 2023 op die plaas, Papkuil, in die Ceres-Karoo naby Calvinia.
Olivier en Vlok tesame met ‘n 20-jarige medepligtige het tereg gestaan op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, moord, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Die 20-jarige beskuldigde was ten tyde van die moord minderjarig en mag volgens die nuwe Strafproseswet dus nie geidentifiseer word nie, al het hy reeds volwassenheid bereik. Hy is effektief tot 15 jaar direkte tronkstraf vir sy aandeel in die moord gevonnis. Al drie is ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Volgens die klagstaat het Olivier op die onheilspellende dag vir Vlok en die minderjarige gevra om hom na die plaas, Papkuil, te vergesel om ‘n beweerde loongeskil tussen hom en Walters, in wie se diens hy ten tyde van die moord was, op te los.
Aangekom op die plaas, het Olivier vir Walters vir twee sigarette gevra. Met haar terugkeer, nadat sy die sigarette gaan haal het, het die drie mans haar gegryp, haar na buite die huis gesleep en haar met ‘n belt en lemmetjiesdraad om haar hande en nek vasgebind. Hulle het haar herhaaldelik geskop terwyl sy op die grond gelê het.
Olivier het vir Vlok opdrag gegee om die huis binne te gaan en waardevolle items te neem, terwyl hy en die minderjarige buite by Walters gebly het wat op daardie stadium in erge pyn op die grond gelê het. Vlok het teruggekeer met kruideniersware, alkohol, ’n selfoon en vier vuurwapens en ammunisie. Die driestuks het toe ’n vuurwapen geneem, en elkeen het beurte gemaak om op Walters te skiet terwyl sy hulpeloos op die grond gelê het.
Hulle het met die buit en die vuurwapens vertrek en na Olivier se woning by Klein Papkuil gegaan. Vlok en die minderjarige het op ’n donkiekar geklim en na ’n veld gereis waar hulle die vuurwapens en ammunisie versteek het.
Die polisie het die beskuldigdes in hegtenis geneem nadat hulle inligting opgevolg het wat na hulle gelei het. Die beskuldigdes het met die polisie saamgewerk, die vuurwapens uitgewys, en die minderjarige het die misdade wat hulle gepleeg het, erken. Hulle het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die Staat aangegaan en skuld beken.
Die beskuldigdes, wat die toenemende bewyse en die moontlikheid om voor die waarnemende streekshof-aanklaer, Amisha Ratanjie, te verskyn, besef het, het die hof se voorgestelde vonnis aanvaar.
Die hof het hulle skuldig bevind en Olivier en Vlok gevonnis tot 12 jaar direkte gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede, 30 jaar direkte gevangenisstraf vir moord, 10 jaar direkte gevangenisstraf vir onwettige besit van ’n vuurwapen en 10 jaar direkte gevangenisstraf vir onwettige besit van ammunisie. Die hof het gelas dat die vonnisse vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie samelopend uitgedien moet word saam met die moordvonnis.
Die hof het die 20-jarige ingevolge Artikel 71 van die Kinderregswet, 75 van 2008, gevonnis tot 10 jaar direkte gevangenisstraf vir roof met verswarende omstandighede, 20 jaar direkte gevangenisstraf vir moord, waarvan vyf jaar vir vyf jaar opgeskort is op voorwaarde dat hy nie gedurende die opskortingstydperk skuldig bevind word aan ’n misdryf waarin geweld teen ’n ander persoon se liggaam ’n element is nie.
Hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en vyf jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van ammunisie. Die hof het gelas dat die vonnisse vir roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie gelyktydig uitgedien moet word saam met die moordvonnis.
Die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolgings, adv. Nicolette Bell, het Ratanjie en die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Van Wyk, geloof en opgemerk dat sulke gewelddadige misdadigers wat geen agting het vir ‘n lewe nie, en wat ’n bejaarde vrou genadeloos in haar huis aangeval het, haar wreed aangerand het terwyl sy hulpeloos op die grond gelê het en beurte gemaak het om op haar te skiet, “nie oornag engele word wat skielik hul foute besef nie”.
Sy het verder aangevoer dat die beskuldigdes bloot skuldig gepleit het omdat hulle besef het dat die bewyse teen hulle te verdoemend was dat hulle geen ander keuse gehad het nie.
“Die aanval op die bejaarde vrou kan nooit aanvaar of geregverdig word nie. Ons hoop haar familie vind vertroosting daarin dat die oortreders van hierdie gruwelike misdade vir ’n lang tyd in die tronk sal wees.”





