Worcester Standard & Breederivier Gazette

Worcester-Noord Primêre Skool se radiodrama wen prys

AJ Britz
AJ Britz, onderwyser en dramaskrywer van die Worcester-Noord Primêre Skool.

‘n Onderwyser se liefde vir Afrikaans en die vertel van stories het ‘n radiodrama, wat hy geskryf het, ‘n eerste plek in ‘n plaaslike kompetisie besorg.

AJ Britz, ‘n Afrikaans-onderwyser aan die Worcester-Noord Primêre Skool, se radiodrama, Die laaste oproep, is lewe gegee deur ‘n groep Worcesteriete wat hulle besonder goed van hul taak gekwyt het. Hulle het met ‘n rits pryse weggeloop.

Die 23-jarige Britz het die prys vir die beste teks en vir die beste regisseur ontvang.

Dr. Steyn Smit, wat voorheen die beheerliggaam se voorsitter was, is as die beste akteur aangewys en Elizabeth van Zyl, ook ‘n onderwyser aan die skool, was die beste aktrise.

radiodrama
Die laaste oproep is deur AJ Britz (regs voor) geskryf en met die hulp van Innovation of the Blind opgeneem.

“Die drama is aanvanklik vir die skool se toneel- en drama- groep geskryf, maar ons het besef dat dit nie vir hulle gaan werk nie. Ons het besluit om dit self en met die hulp van Innovation of the Blind en Morné en Heaven van der Merwe op te neem en het vir die kompetisie ingeskryf.

“Morné het met die redigering gehelp en Heaven was een van die karakters.

“Die drama handel oor ‘n pa wat ná sy kankerdiagnose sake met sy gesin, wat hy jare lank verwaarloos het, wil regmaak. Nie al sy kinders is egter so maklik daarvoor te vinde nie,” vertel Britz.

“Dit was ‘n besondere ervaring en met die opname het almal hulle so ingeleef dat die trane geloop het,” vertel die onderwyser.

Die droom vir die radiodrama is egter om dit as ‘n kortfilm die lig te laat sien.

Sy pen is nietemin reeds aan die werk aan nog ‘n drama.

• Besoek https://bit.ly/DIELAASTEOPROEP om na die radiodrama te luister.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article