Nellies se vroegste toetse sal in die NWU-reeks plaasvind, waar hulle teen Kempton Park en EG Jansen te staan sal kom.
Ná die relegasie van verlede jaar kyk Nelspruit vorentoe met planne vir volhoubaarheid

Harte het aan die einde van 2025 in Nelspruit gebreek. Dit het gevolg nadat Hoërskool Nelspruit uit die Noordvaal-bekerafdeling (die hoogste vlak van die Noordvaal-kompetisie) gerelegeer is. Die skool het dadelik opgetree deur ‘n voltydse rugbyhoof aan te stel. Voormalige Pumas-, Griekwas- en Blitzbok-speler, MJ Mentz, wat vanjaar die leisels oorneem, het ‘n duidelike visie vir die skool se rugby.

“Verlede jaar was ‘n moeilike jaar vir die skool. Die groot ding is om nou ‘n volhoubare rugbystelsel te vestig wat nie op korttermynsukses fokus nie, maar op die ontwikkeling van plaaslike talent en die instandhouding van ‘n gesonde rugbykultuur. Dit is baie belangrik om sinergie tussen alle afrigters te skep,” het hy verduidelik.

Mentz beklemtoon dat die skool spelers uit die omgewing wil behou. “Ons werk met Laeveldse talent en wil hê dat hierdie spelers by Nelspruit moet bly en hier ontwikkel. Indien ons daarin slaag, beskou ons dit as sukses. Ons wil liefde vir die spel in alle ouderdomme kweek om sodoende ‘n omgewing te skep waar almal wil deelneem en speel,” verduidelik hy.

‘n Doelgerigte driejaarplan is in plek wat nie noodwendig op onmiddellike promosie fokus nie. “Die sisteem moet reg en aanloklik wees vir spelers. Kultuur en sisteme is vir ons die belangrikste,” sê hy verder.

Die fasiliteite by Hoërskool Nelspruit is onlangs opgeknap, onder andere met die opening van ‘n nuwe gimnasium en ‘n Hoëprestasie Sentrum (HPC) waar spelers hul fisiese voorbereiding kan verbeter. “Ons bied geleenthede vir ons spelers om hul volle potensiaal te bereik,” sê Mentz.

Nellies se vroegste toetse sal in die NWU-reeks plaasvind, waar hulle teen Kempton Park en EG Jansen te staan sal kom. Daarna vertrek die 1ste XV na die Noord-Suid-toernooi, waar Framesby en Bethlehem Voortrekker op hulle wag. Die Rhinos bly daarna in Pretoria om aan die St John’s Paastoernooi deel te neem, waar Hilton College en St Alban’s College hulle gaan toets.

“Hilton College is altyd goed, dit gaan moeilik wees,” het Mentz gesê.

Indien Nelspruit bestendig in dié toernooie presteer, behoort hulle gereed te wees vir die uitdaging wat die Noordvaal Plaatafdeling vir hulle inhou.

“Vir my is al die spanne nog nuut. Daar is baie taai spanne in die Noordvaal, wat beteken ons moet week in en week uit op ons beste wees. Ons wil graag wen, maar die bou van sisteme en ‘n sterk kultuur is belangriker,” het hy bygevoeg.

Die Laevelders het beslis die skietgoed om hulself weer in die boonste geledere van die Noordvaal-kompetisie te vestig.

Een van die grootste uitdagings vir Hoërskool Nelspruit is egter die reisafstand na wegwedstryde. Die naaste wegwedstryd is in Pretoria, wat meer as 300 km se reis vereis. Hulle moet ook na Klerksdorp Hoërskool reis, ‘n afstand van 500 km.

“Ons moet reisfiks wees en ons herstelprotokolle doelbewus volg; dit gaan ons groot uitdaging wees,” sê Mentz.

Met jare lange ervaring in die beker-afdeling van die kompetisie, is die Rhinos beslis een van die spanne om in die Plaatafdeling dop te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article