Nuwe afrigter, nuwe span, nuwe dinge vir Worcester Gimnasium in 2026.
JJ Pretorius wil in sy eerste jaar as hoofafrigter van die 1ste XV ‘n kampioen-ingesteldheid onder die spelers kweek.
“Het ons ‘n hoë werksetiek? Is die spelers rolmodelle vir jonger spelers? Staan hulle op vir reg en verkeerd? Dit is belangrik, want dit dra oor na die oefening en die wedstryde toe. Ons wil nooit opgee nie,” het hy verduidelik.
Worcester Gim het ‘n paar taai toffies om vanjaar te kou. Hulle vat vroeg in die seisoen Hudson Park en Dale College op die KES-fees aan. Maar voordat hulle Johannesburg toe reis, het hulle nog wedstryde teen Wynberg en Stellenberg. Dit alles voordat die uitdaging van die Boland-liga begin.
“As ons albei wedstryde by KES kan wen, sal ons reg wees vir die Boland-liga. Stellenberg is waarskynlik ons grootste toets vir die jaar; dit gaan ‘n lekker wedstryd wees waar kontrasterende style teen mekaar getoets gaan word,” het Pretorius gesê.
Die groot wedstryd is natuurlik die “derby” tussen Gimnasium en HTS Drostdy. Volgens Pretorius was daar verlede jaar ongeveer 16 000 mense by dié wedstryd.
“Daar is baie geskiedenis tussen die twee skole, en dit is altyd ‘n taai wedstryd. Die gemeenskap koop regtig in met die hele dag. Beide ons en HTS Drostdy het goeie afrigting en goeie geriewe. Ons wil vir die mense wys dat daar in die dorp net sulke goeie geleenthede is. Die geleentheid vir spelers om voor ‘n groot skare te speel is een van die dinge waarna die spelers baie uitsien,” verduidelik hy.
Volgens hom is dit ‘n groot ekonomiese inspuiting vir die dorp, waar besigheid veral baie betrokke raak op die dag.
Pretorius glo dat Worcester altyd mooi hardlooprugby speel, maar weet ook daar moet vernuwing gebeur om mededingend te bly.
“Ons het ‘n paar planne – wat ons bietjie in ‘n ander rigting gaan vat, wat ander spanne so bietjie gaan verras. Ons beplanning is deeglik gedoen, so ons glo dit gaan uitwerk,” het hy gesê.
Hoewel net twee spelers van 2025 se 1ste XV weer by die skool is vanjaar, is Pretorius opgewonde oor die uitdaging. Volgens hom is dit beter vir hom as nuwe afrigter om spelers te hê wat dadelik sy manier van dinge doen, kan aanleer.
“Dit is ‘n jong span, maar dit maak dit makliker vir hulle om aan nuwe sisteme gewoond te raak,” het hy afgesluit.





