Durbanville wil dat hulle spelers met selfvertroue speel

“In die Noorde speel almal vir ‘n beker. Hier in die Kaap is daar nie bekers nie. Dit maak die rugby lekkerder. Makliker vir afrigters om uit die boks te dink en spelers om hulself uit te druk,”

So verduidelik Johan du Toit, hoof van rugby by Hoërskool Durbanville, oor die verskille tussen skole rugby in die Noorde van die land en in die Suide. Hy is oorspronklik van die Noorde en kan die vergelyking tref.

Daar word dalk nie bekers in die Kaap uitgedeel nie, maar skole speel nogsteeds om te wen. Durbanville se rugby program het so gegroei dat hulle volgende jaar in die Premier-A afdeling gaan speel. Met hierdie promosie gaan hulle meer gereeld saam die groot honde van die Kaap se skole hardloop. Paarl Gim, Paarl Boys, Paul Roos, Stellenberg, Bishops, SACS, Wynberg, Boland Landbou en Rondebosch is almal in dié afdeling.

Volgens du Toit, speel hulle elke jaar teen van dié spanne, maar hulle gaan nou teen almal in een seisoen speel.

“Ons gaan ons spelers beter moet bestuur – in die verlede het ons ekstra wedstyde gaan soek, maar nou sal ons die seuns afgee wanneer ons ‘n loslootjie het,” verduidelik hy.

Durbanville weet dat 2026 vir hulle ‘n groot uitdaging gaan wees. Volgens Johan du Toit, hoof van Rugby, by die skool moet hulle die geleentheid gebruik om te groei.

Hy vertel dat die groot draai punt ongeveer twee jaar terug begin het.

“Ons het baie hard gewerk aan ons junior spanne en ons is bevoorreg om baie goeie manspersoneel te hê. Meeste van ons 35 afrigters is onderwysers. Hulle het help om die seuns op die stoepe te motiveer en aan te moedig,” sê du Toit.

Daar was ‘n drie jaar plan wat binne twee jaar gerealiseer het. Een deel was om ‘n trappie van die WP skole rugby leer te klim. Ook om die infrastruktuur van die skool vir rugby te verbeter.

“Ons gaan volgende jaar vyf velde hê, almal met nuwe speel oppervlakte. Sowel as ‘n opgegradeerde gimnasium,” verduidelik hy.

Dié skool wat in 2027, 200 jaar oud word, het nie sonder moeite begin presteer nie. Volgens Du Toit, is daar ‘n baie goeie bloudruk wat deur al die spanne in die skool gevolg word. Sowel as ‘n fokus op kondisionering vir al die spanne.

“Ons gaan in 2026, 22 spanne hê. Daardeur wil ons vir soveel as moontlik seuns die geleentheid gee om te speel. Die idee is om spelers te kweek wat met vryheid speel. Dit bou bou hulle selfvertroue wat die speler beter maak, wat uiteindelik die spanne beter maak,” vertel hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article