Die “Wilde Weskus” het weer sy naam gestand gedoen die week toe skokgranate en traangas gisteroggend na betogers afgevuur is nadat die situasie buite die Vredenburg-landdroshof, waar die vier beskuldigdes in die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith verskyn het, gespanne geraak het. Boonop is Langebaan net dae vantevore geruk deur die moord op ’n 61-jarige inwoner wie se lyk met veelvuldige steekwonde in haar huis in ’n spogbuurt gevind is.

Asof die misdaad nie genoeg is om enigiemand se gemoed te demp nie, is silly season vroeg vanjaar op ons, met die aanloop tot die nasionale verkiesing op 29 Mei en met elke politieke partye wat modder na mekaar gooi en slap truuks uithaal om situasies, wat dikwels geen reaksie ontlok nie, vir hul eie politieke gewin uit te buit en tot voordeel te laat tel vir wanneer kiesers moet aantree om hul kruisies te trek.

Diensleweringsbetogings is een so ’n voorbeeld wat nou weer sy kop oral uitsteek. Landsburgers behoort egter teen dié tyd al die taktiek te ken, wanneer die mees weerloses in gemeenskappe geteiken word en met mooi beloftes van ’n beter toekoms en omstandighede gepaai word.

Wees nugter in jou denke wanneer jy vanjaar by die stembus aantree. In watter dorp of provinsie jy jou ook al bevind, maak jou keuse gegrond op ’n alomvattende evaluering van dienste gelewer oor die afgelope vier jaar waarvoor jy as belastingbetaler opdok – hoe lyk die paaie in jou straat, buurt of dorp; het jy skoon drinkwater in die krane; geskied vullisverwydering weekliks en per skedule; ken jy jou wyksraadslid, is hy/sy betrokke in jou wyk en toeganklik om klagtes oor dienslewering aan te hoor en aan te spreek? Het die politieke party wat jy met die vorige verkiesing aan bewind help stel het, gehou by sy manifes en sy beloftes nagekom? En waak teen silly season!

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article