VREDENBURG – Ouderdom, gesondheids­­uitdagings en selfs ­strawwe weersomstandighede hou die bekende Douglas ­Hector, ‘n atleet van die Langebaan-Strandlopers-atletiekklub, nie terug nie.

Dié inwoner van Vredenburg het ná bykans drie jaar se mediese uitdagings en operasies sy terugkeer tot die atletiekbaan gemaak. Dit was besonder suksesvol toe hy onlangs tydens die Suidwes-Distrikte (SWD) se Meesters­atletiekbyeenkoms by die Rosemoor-­atletiekstadion in George ‘n goue medalje losgehardloop het. Hector het die 5 000m in 33:38,93 afgelê. Hy het ook eerste in sy ouderdomsgroep van 65 tot 69 jaar geëindig en terselfdertyd ‘n persoonlike beste aangeteken.

Sy indrukwekkende vertonings het tydens die Hoka-half wedloop in Stellenbosch op Saterdag 14 November voortgeduur. Hy het die wedloop in 1:15:06 voltooi en agtste uit 615 atlete in sy ouderdomsgroep geëindig.

Hector se atletiekloopbaan strek ook oor landsgrense heen.

Hy het onlangs – in 2024 – in Swede gaan deelneem en beklee tans die 13de posisie op die wêreldranglys in sy ouderdomsgroep.

Hy is ook die verdedigende Afrika-­kampioen in sy afdeling.

Hoewel Hector voorheen aan beide die 5 000m en 10 000m deelgeneem het, fokus hy deesdae hoofsaaklik op die 5 000m, soos deur sy dokter aanbeveel.

Hy hou steeds sy fiksheid op peil deur gereeld te oefen en aan klubs se padwedlope deel te neem.

Vir Hector is atletiek egter veel meer as net tye, medaljes en ranglyste. Hy gee al die eer en dank aan God vir sy vermoë om steeds aan wedlope deel te neem.

“Die eer en heerlikheid behoort aan God Almagtig, wat my voortdurend versterk. Ek is nederig daaroor. Dit gaan alles oor Jesus wanneer ek hierdie wedlope stap.

“Ek verteenwoordig God, of dit nou op die pad of die baan is,” het hy aan Weslander gesê.

Benewens sy eie atletiekloopbaan is Hector ook bereid om sy kennis en erva­ring met ander te deel.

Hy is beskikbaar om oud en jonk in spoedstap af te rig en ander te help om dié sportsoort te ontwikkel.

Hector glo dat hy met vasberadenheid, dissipline en geloof steeds’n inspirasie vir mede-atlete – jonk en oud – is en kan wees.

LEES OOK: Myknos Half Marathon lok talle

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 19 November 2026
    Weslander E-Edition – 19 November 2026

Gift this article