Vir Wilfred Soegop van Vredenburg was dit vanjaar weer ‘n voorreg om aan die wêreldbekende Comrades-marathon deel te neem. Die wedloop, wat op Sondag 14 Junie plaasgevind het, was sy sesde Comrades en nóg ‘n mylpaal in sy hardlooploopbaan.

Volgens Soegop, wat vir Club Mykonos Multisport hardloop, is die Comrades nie sommer net nóg ‘n wedloop nie, maar ‘n ongelooflik uitdagende reis waarvoor deeglike voorbereiding nodig is. Hy meen dit verg baie van ‘n atleet, sowel fisiek as geestelik. “Wat die Comrades egter besonders maak, is die mense langs die roete. Die ondersteuning van toeskouers is ongelooflik. Oral langs die pad word hardlopers aangemoedig. Jy voel nooit alleen op die roete nie. Dit is werklik ‘n besonderse wedloop.

“Ek glo dat as jy jouself ‘n marathonhardloper noem, jy minstens een keer in jou lewe die Comrades moet aanpak om daardie ervaring self te beleef.”

Soegop het die wedloop in 8 uur en 47 minute voltooi. Hoewel dit gewoonlik met spierpyne en ‘n paar beserings gepaard gaan, glo hy steeds aan die leuse: “No pain, no gain”.

“Ek het baie hard vir die wedloop geoefen, maar ná my broer se ongeluk het dit my emosioneel erg geraak (“Botsing op R45 eis ses”, Weslander, 2 April 2026). Vir byna drie weke tot ‘n maand kon ek glad nie oefen nie, maar tog het alles uiteindelik uitgewerk.”

Soegop moedig ander atlete aan om ook aan die Comrades deel te neem, ‘n ervaring wat hy glo elke langafstandhardloper minstens een keer moet beleef.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 25 June 2026
    Weslander E-Edition – 25 June 2026

Gift this article