Wat eens ‘n droom was, het ‘n werklikheid vir ‘n jong man van Diazville geword. Shawn- Douglas Weimers (24) se droom om ‘n vlieënier te word het vlerke gekry en vandag is hy trots om as vluginstrukteur by die 43 Air School in Port Alfred te werk.
Hierdie geleentheid, met die voltooiing van sy instrukteurskursus, is ‘n belangrike stap nader aan sy uiteindelike droom om eendag ‘n opleidingskaptein by Emirates te word.
Weimers het in 2020 gematrikuleer het en in 2021 met sy vlieëniersopleiding begin.
Sy belangstelling in die lugvaartbedryf het reeds op ‘n jong ouderdom begin. Wanneer die lugmag oor Saldanha gevlieg het, het dit sy nuuskierigheid geprikkel.
Hy het destyds min van die bedryf geweet en niemand geken wat ‘n vlieënier was nie.
Dit het in 2017 verander toe hy die lugskou in Langebaanweg bygewoon het.
‘n Beroepsdag tydens dié skou het hom sy eerste geleentheid gegee om met vlieëniers te gesels en meer oor hul beroep uit te vind.
“In daardie gesprekke het ek besef en besluit dat dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen,” vertel hy.
Die lugskou die volgende dag het sy besluit verder bevestig.
‘n Stap nader aan sy droom
Weimers se onlangse instrukteurskursus is ‘n belangrike mylpaal in sy loopbaan. Die kursus rus vlieëniers toe om mense sonder enige vliegervaring te leer vlieg.
Volgens hom is dit ‘n besonder uitdagende kursus, aangesien instrukteurs nie net oor uitstekende vliegvaardighede moet beskik nie, maar ook ‘n diepgaande begrip van aërodinamiese konsepte moet hê.
“Dit is jou vlieg wat op ‘n hoë standaard moet wees. Daar word ook van ons verwag om ‘n dieper begrip van aërodinamiese konsepte te hê.”
Die ervaring wat hy as instrukteur opdoen, is noodsaaklik om sy droom te verwesenlik om eendag ‘n opleidingskaptein te word.
Gesin en familie se opofferings
Hoewel Weimers se vasberadenheid hom ver gebring het, was die finansiële koste van sy opleiding een van die grootste struikelblokke op sy pad.
“Dit is een van die duurste beroepe om in te gaan. Alhoewel ek goed op skool gedoen het, kon ek nie beurse kry nie.
“My ouers is die enigste rede hoekom ek is waar ek is. Hulle het so baie opgeoffer vir my,” vertel hy.
Hy sê hy sou dit nie sonder sy ma, pa, twee susters, familie en vriende kon regkry nie.
Hulle ondersteuning bly vir hom ‘n belangrike bron van motivering terwyl hy verder aan sy loopbaan bou.
‘n Voorbeeld vir jongmense
Vir Weimers gaan sy prestasies oor meer as net persoonlike sukses. Hy wil ook aan jongmense in sy gemeenskap wys dat hul omstandighede nie hul drome hoef te bepaal nie.
“Elke keer as ek vir ‘n lisensie- toets gaan, weet ek ek doen dit nie net vir myself nie, maar ook vir my gemeenskap.”
Weimers hoop dat sy verhaal ander kinders sal inspireer om in hul eie vermoëns te glo en nie hul drome prys te gee wanneer hulle uitdagings teëkom nie.
Hy moedig jongmense, veral dié van sy gemeenskap, aan om nooit op te hou droom nie.
“Mense gaan moontlik vir jou sê dis onmoontlik, maar moet nooit opgee nie en werk hard om jou droom ‘n werklikheid te maak. Daar gaan so baie struikel-
blokke wees en jy moet dit verwag, maar onthou net: opgee was en kan nie ‘n opsie wees nie,” sê hy.
Vir Weimers is die boodskap duidelik: met harde werk, deursettingsvermoë en die ondersteu- ning van geliefdes kan ‘n droom wat onmoontlik lyk mettertyd ‘n werklikheid word.
LEES OOK: Diazville-leerders droom groot





