Die kragtoevoer na verskeie militêre instellings in die Weskus is verlede week eers ná drie dae herstel nadat betaling op Vrydag 8 Mei deur die Departement van Verdediging (DoD) aan die Saldanhabaai munisipaliteit gemaak is.
Die munisipaliteit het op Woensdag 6 April omstreeks 14:00 die krag na onder meer die Militêre Akademie, die SAS Saldanha-vlootbasis in Saldanha en die 4 Spesiale Magte Regiment (die Recces) in Langebaan afgesny weens ‘n uitstaande rekening wat glo sowat R9,2 miljoen beloop het.
Die onderbreking het groot ontwrigting vir personeel en gesinne op die basisse veroorsaak en hulle sonder warm water en met ontvriesende yskaste en beperkte werkverrigting gelaat.
Die situasie was veral problematies aangesien eksamens vir studente aan die Militêre Akademie op die punt gestaan het om te begin. “Ons het ‘n kragopwekker, maar dit werk net op sekere tye,” het ‘n bron gesê. “Met die eksamens wat begin het, was dit ‘n groot probleem.”
Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, het verlede Vrydag bevestig dat die krag weer aangeskakel sou word. “Betaling is vandag aan die munisipaliteit gedoen,” het sy gesê.
Dit is glo nie die eerste keer wat die krag afgeskakel is nie, en daarom laat die voorval vrae ontstaan oor herhalende wanbetaling en die impak daarvan op kritieke staatsinstellings in Saldanha.
• Die krag is níé na die Langebaanweg-lugmagbasis, soos aanvanklik berig is, afgeskakel nie, het die woordvoerder maj. Patrick Paulse gesê.





