Drie afsonderlike brande het die lewens van vyf gesinne in Diazville, Paternoster en Vredenburg heeltemal omvergegooi.
In Diazville en Paternoster het die brande op Woensdag 28 Januarie plaasgevind en op Vredenburg twee dae tevore. Die gesin in Esperia, Vredenburg het met net met die klere aan hul lywe die vlamme ontsnap.

Die brand by die huis in Barberstraat, Diazville, het omstreeks 14:00 uitgebreek. Volgens die 32-jarige eienaar, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het hy dié huis met sy bejaarde ma gedeel. Hy was by die werk toe hy die rook in die verte sien bol. Aanvanklik het hy gedink dit is naby aan sy huis, maar hy het met sy aankoms besef dit is wel sy huis wat brand.
“Ek het dadelik opgehardloop en het ‘n bietjie van ‘n paniekaanval gekry en gesukkel om asem te haal. Dis jou hele lewe in vlamme. Ons het alles verloor, en alles het so vinnig gebeur. Ek is nou nog in skok,” vertel die eienaar.
Hy is wel dankbaar dat niemand in die huis was tydens die brand nie. “Dit is die enigste positiewe ding. Ons vat dit maar stap-vir-stap. Ek is regtig beïndruk met die munisipaliteit, rampbestuur, brandweer en polisie met die hulp wat hulle aangebied het.”
Monique van der Westhuizen (38) van Kompasstraat, Paternoster, het aan Weslander vertel sy het die geskree van haar dogter gehoor en toe sy uitkom, die vlamme gesien. Die brand het omstreeks 21:00 begin en drie woonplekke is deur die brand verwoes.
“Ek het alles verloor. Die gemeenskap het gehelp, maar kon nie veel aan die vure doen nie, juis omdat die wind so sterk gewaai het. Wat ek wel kan sê, is dat die brandweer baie lank geneem het om te kom.”
Die Paternoster-gemeenskap het wel bekommernisse oor hoe die brandweer die brand hanteer het. Volgens Ethne Lawrence, woordvoer vir die Saldanhabaai-munisipaliteit het brandweer voldoende watervoorraad gehad om brandbestrydingsaktiwiteite uit te voer.
“Ons spanne is voorbereid en professioneel opgelei. Ons het egter uitdagings met skarebeheer ondervind toe ons by die adres aankom. Wetstoepassing en polisie moes met skarebeheer help om te verseker dat ons op die toneel kon kom om toegang tot die brand te verkry en te beheer.”

Rachelle Samuels (74) wat langs Van der Westhuizen woon, se huis het ook afgebrand. Sy is dankbaar niemand het iets oorgekom nie. “Ek is bly ek was nog wakker gewees, besig om te lees. Ek het die geskree gehoor en toe ek uitkyk het ek net vlamme gesien. Ek sê net dankie vir die Here dat ek niks oorgekom het nie.”
Lawrence voeg by dat die oorsaak van al twee brande nog ondersoek word.






You must be logged in to post a comment.