‘n Gesin van Esperia, Vredenburg, het vanoggend (Maandag 26 Januarie) net met die klere aan hul lywe die vlamme ontsnap.

Die netjiese huis in Athena-straat het omstreeks 06:00 op ‘n onverklaarbare wyse aan die brand geraak. Die brand het vermoedelik in die sitkamer ontstaan terwyl die ma en kinders nog geslaap het.

Daar is niks van die kenmerkende oranjehuis aan die beginpunt van Athena-straat oor nie.

Mlamli Mvubu, ‘n Transnet-werker, moes by die werk hoor dat sy vrou, Thandokazi, en hul drie kinders net-net betyds uit die brandende huis kon ontsnap. Die gesin wat die woonstel aan die huis gehuur het, het ook ‘n noue ontkoming gehad.

Die brandweer van die Saldanhabaai-munisipaliteit het sowat drie ure onverpoosd gespook om die brand te blus.

Deel van die brandweerspan wat die vlamme tot bedaring gebring het, is (van links) Nondumiso Picane, Hiru Dietdricks, Chrislyn Hector en Ghurs van Schalkwyk. Foto: Alida Buckle
Deel van die brandweerspan wat die vlamme tot bedaring gebring het, is (van links) Nondumiso Picane, Hiru Dietdricks, Chrislyn Hector en Ghurs van Schalkwyk. Foto: Alida Buckle

Elowayne Gouws en die West Coast Medical Rescue-span het die oudste kind, wat gestremd is, én ‘n buurman met rookverwante beserings in die hospitaal opgeneem. Die buurman het glo onverskrokke die huis binnegegaan om dié kind te red.

Brandweerman Leon Carolus besig om die vlamme te spuit. Foto: Alida Buckle
Brandweerman Leon Carolus besig om die vlamme te spuit. Foto: Alida Buckle

Om klere en benodigdhede vir die gesin te skenk, kan Carli Smook van die Esperia-buurtwag by die omgeegroep gebel word op 061 580 4655.

  • Babadoeke word dringend benodig asook kinderklere vir ‘n tweejarige meisie en seuns van drie, vier en elf jaar oud. Thandokazi dra ‘n nommer-5-skoen en vroueklere nommer 34, Mlamli mansklere nommer 34 en nommer-8-skoene. Die elfjarige dra klere van 11-12 jaar oud en nommer-1-skoene.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article