Alida Buckle
Die vrou wat na bewering die houthut in Middelpos, waarin die vermiste Joshlin Smith (7) saam met haar gesin gewoon het, afgebrand het, het Maandag (12 Mei) weer in die Vredenburg-landdroshof op aanklag van brandstigting verskyn.
Monique Kekana (27) het volgens die staat die hut voorverlede Vrydag (2 Mei) tot op die grond afgebrand – enkele ure nadat regter Nathan Erasmus Joshlin se ma, Kelly Smith, haar kêrel, Boeta Appollis en sy vriend, Steveno van Rhyn, op aanklagte van ontvoering en mensehandel skuldig bevind het.
Joshlin het op Sondag 18 Februarie 2024 haar laaste nag in dié hut deurgebring. Die volgende dag is sy vir R20 000 verkoop. Hoewel Kekana skuld op die aanklag ontken, het sy ná Maandag se verskyning buite die hofgebou aan die media gesê sy het die hut afgebrand “ter wille van Joshlin” en dat sy nie spyt is daaroor nie. Sy het aan die ENCA-nuuskanaal gesê sy was baie kwaad en emosioneel daardie aand. Kekana het ook gesê sy glo Kelly weet waar Joshlin is en sy weet die kind is nie dood nie.
Sy is op R500 borgtog vrygelaat en moet op Vrydag 27 Junie weer by die hof wees. Sy het gesê sy was verlig om weer op vrye voet te wees nadat sy langer as ‘n week in die Pollsmoor-gevangenis aangehou is. Hier het sy Kelly gesien loop “asof die plek aan haar behoort”.
Smith, Appollis en Van Rhyn se
vonnisopleggingsproses begin op Dinsdag 27 Mei in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, met die aanhoor van betoë ter strafversagting en strafverswaring. Erasmus se vonnisuitspraak word op Donderdag 29 Mei verwag.





