Beskuldig is Kelly (Raquel) Smith (34)(links), Boeta (Jacquen) Appolis (32)(middel) en Steveno van Rhyn (28)(regs).Foto: Daily Maverick


“Ons is baie bly dat die hooggeregshof besluit het om die saak hier onder in Saldanha aan te hoor. Die feit dat hulle dit na die mense toe bring, herstel weer ’n mens se vertroue in die regstelsel.” Só meen die gemeenskapsleier Vernon Vraagom van Diazville, ’n oud-raadslid in die Saldanhabaai-munisipaliteit.

Die verhoor in die hooggeregshofsaak teen Kelly (Raquel) Smith (34), Boeta (Jacquen) Appolis (32) en Steveno van Rhyn (28) gaan op Woensdag 5 Maart in die Veeldoelige Sentrum in Trichartstraat, White City, begin. Hulle staan tereg op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit.

Kelly het haar sesjarige dogter, Joshlin, gister (Woensdag 19 Februarie) presies ’n jaar gelede by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aangee. Die gemeenskap het ter herdenking ook op dié dag ’n bewusmakingstap vir Joshlin gehou wat in Middelpos begin het.

Vraagom hoop dat die waarheid nou gaan uitkom – wat presies gebeur het en waar Joshlin aangehou word. “Ons glo as gemeenskap dat Joshlin nog lewe. Dat sy iewers weggesteek word.”

Nes Vraagom glo ander inwoners voor wie Kelly grootgeword het, dat Joshlin nog leef. “Ek het ’n verskriklike groot hoop. Daai kind lewe nog,” het een vrou, wat verkies om anoniem te bly, gesê. Sy glo ook dat die skuif van die hofsaak die gemeenskap die kans gaan gee om die verhoor by te woon en mekaar te kan ondersteun. Haar hoop is dat Kelly eerlik en opreg tydens die verhoor gaan wees. “Sy moet ten minste sê wat sy met die kind gemaak het, waar sy is en aan wié sy haar verkoop het.” Verder hoop sy ook dat Appolis sal sê wat presies op die dag gebeur het toe Joshlin weggeraak het. “Ons wil nie ’n klomp goed hoor nie. Ons wil net daai goed hoor.”

En dan, glo sy, moet Kelly vir haar aandeel gestraf word. “Sy moet gestraf word, want dit is nie hoe ’n ma dinge doen nie. As jy van jou kind ontslae wil raak, gaan welsyn toe en gee jou kind vir hulle. Sê jy het nie werk nie, jy kan nie die kinders bekostig nie. Daar is hulp, maar jy moet net praat. Kelly moes net gepraat het. Gesê het sy kan nie meer na die kinders kyk nie.”

Volgens dié inwoner het Kelly genoeg mense in haar lewe gehad by wie sy om hulp kon aanklop het, maar sy glo die dwelms het Kelly en Appolis se mindset beïnvloed. “Ek dink dit was glad nie regverdig teenoor daai kind nie.”

Inwoners het intussen ook vertel dat Kelly vir Joshlin die dag waarop sy weggeraak het, al huilend aan die arm na ’n wit motor vol vreemdelinge gesleep het, met ’n rugsakkie vol klere. Die insittendes van die wit motor is steeds nie opgespoor nie, maar die motor word genoem in die hofstukke wat al aan die hof bekendgemaak is.

Luidens die hofstukke het Kelly na bewering die vorige dag, ’n Sondag, al die kind vir haar voornemende ontvoerders gewys waarop die transaksie glo beklink is.

Die skuif van die verhoor van die hooggeregshofgebou in Kaapstad na White City is op Kelly se vlugtige verskyning op Vrydag 31 Januarie bekendgemaak.

Appolis en Van Rhyn het weens ’n “administratiewe” fout nie saam met Kelly verskyn nie.

Eric Ntabazalila, Wes-Kaapse woord­voer­der vir die nasionale vervolgings­gesag, het dit later beaam en gesê dat die verhoor op Woensdag 5 Maart in White City begin. Die drie sal oulaas op Vrydag 28 Februarie weer vlugtig in die hooggeregshof verskyn sodat die saak amptelik geskuif kan word.

Die saak teen ’n vierde verdagte, Renze (Laurentia) Lombaard (32), ’n buurvrou in die Middelpos- informele nedersetting langs Diazville, is einde verlede jaar teruggetrek. Sy gaan na verwagting vir die staat getuig.

Volgens Ntabazalila is daar besluit om die hofsitting te skuif om die Saldanha-gemeenskap die geleentheid te gee om die verhoor by te woon. Kelly word in die vroue-afdeling van Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad aangehou en Appolis en Van Rhyn in die Malmesbury-gevangenis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article