Demashu Maya van Saldanha nael vir sy drie in Saldanha se Weskus-derby teen Vredenburg. Vredenburg wen dié naelbytstryd met 31-26. Foto: David Rossouw

David Rossouw

Saterdag (17 Mei) was die Saldanha Transnet-stadion die tuiste van ‘n epiese stryd tussen die twee groot kanonne van Weskus-rugby, Saldanha en Vredenburg. Die skare in die volgepakte stadion het van meet af geweet dat hulle ‘n klas- sieke derby kan verwag.

Vredenburg, wat die afgelope drie jaar onoorwonne teen Saldanha in derby-wedstryde was, het dadelik sy intensies gewys, met blitsige aanvalle in die eerste 15 minute wat tot twee pragtige drieë gelei het. Sy agterlyn se vinnige balverspreiding het die skare gaande gehad – en met ‘n 10-0 agterstand het Saldanha aan die begin gesukkel om sy ritme te vind.

Johan Louw, Saldanha se kaptein, het egter sy leierskap gewys en sy span geïnspireer. Sy vasberade spel het tot die regtervleuel, Matthew Jacobs, se eerste drie gelei, wat die telling tot 10-5 verklein het. ‘n Geelkaart aan Vredenburg het verdere druk op hom geplaas en Saldanha het dié geleentheid benut.

Louw het die bal agter ‘n vaste-skrum opgeraap en aansluiting by die agterlyn gevind, met Demashu Maya wat flymskerp gebreek het en met ‘n krag-

lopie langs die pale afgerond het. Met die doelskop suksesvol het Saldanha die voortou met 12-10 geneem.

Vredenburg se vinnige reaksie toe hy ‘n losbal op meesterlike wyse by Saldanha in ‘n losgemaal afneem, het gelei tot goeie spel deur sy agterlyn, wat tot sy derde drie en ‘n voorsprong van 15-12 gelei het. Net voor rustyd het hy hul voorsprong met ‘n verdere strafdoel tot 18-12 vergroot.

Saldanha het die tweede helfte met hernieude energie afgeskop en ‘n briljante aanval deur sy agterlyn het tot Jacobs se derde drie vir Saldanha gelei. Craig van Rensburg se doelskop het Saldanha ‘n eenpunt-voorsprong van 19-18 gegee. Vredenburg het egter met ‘n strafskop geantwoord om die telling na 21-19 te laat skuif.

Met ‘n paar taktiese skuiwe deur beide afrigters in die laaste 15 minute was daar min te kies tussen die twee spanne. ‘n Strafskop het Vredenburg se telling tot 24-19 geneem, maar Saldanha het die bordjies verhang. Met ‘n tikskoppie en ‘n goed beplande aanval het Feghon Snyders Saldanha se vierde drie gedruk. Van Rensburg verdoel en Saldanha loop voor met 26-24.

Met nog tien minute oor het Vredenburg ‘n laaste aanslag geloods. ‘n Fyn geplaasde rollende skop deur Vredenburg se buitesenter het sy linkervleuel in ‘n ideale posisie geplaas om die bal voor sy eweknie van Saldanha weg te raap om die wendrie te druk.

Vredenburg moes in die laaste drie minute walgooi om Saldanha se aanvalle te neutraliseer en het as oorwinnaars met 31-26 van die veld gestap. Sy deursettingsvermoë en strategiese vernuf het hom net ‘n klein kop voor Saldanha as die beste span in die Saldanha Transnet-stadion geplaas.

Ryno Benjamin het albei spanne vir gehalte-rugby geprys en veral Saldanha se gees en spel beklemtoon. “Ons het geweet hulle gaan met alles kom en ons was voorbereid op hul aanslae. Die manne het gefokus gebly en by ons wedstrydplan gebly, en dit het ons die wedstryd laat wen,” sê hy.

Met nog een eersterondewedstryd bevind Vredenburg en Saldanha hulle in die vyfde en sewende posisie agter die twee voorlopers, Young Hearts en St. Helenabaai.

Volledige uitslae vir Saterdag 17 Mei:

• Weskus:

Saldanha 26-31 Vredenburg, St. Helena 76-11 Goedverwacht, Young Hearts 19-31 Langebaan, Paternoster 45-45 Piketberg, Hopefield 48-33 Steenberg Cove.

• Swartland:

Good Hopes 22-22 Abbotsdale, Moorreesburg 21-17 Villagers Wittewater, Saron 36-32 Mamre, Darling 27-71 Wesbank, Porterville 47-30 Voorberg, Never Despairs 40-29 Riebeeck United.

Wedstrydbepalings vir Saterdag 24 Mei:

• Weskus:

Velddrif t. Young Hearts, Langebaan t. Hopefield, Steenberg Cove t. Paternoster, Piketberg t. St. Helena, Goedverwacht t. Saldanha; Vredenburg rus die naweek.

• Swartland:

Abbotsdale t. Porterville, Mamre t. Moorreesburg (Samoa), Wesbank t. Riebeek United, Villagers Wittewater t. Good Hope, Voorberg t. Darling, Saron t. Never Despair.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article