Alida Buckle
Die aktrise Desiré Gardner is ‘n ou bekende op Suid-Afrikaners se skerms met rolle in 7de Laan, Binnelanders en Suidooster, waarvoor sy ook verskeie toekennings gekry het.
Sy het die Weskus verlede Woensdag (14 Mei) met haar eenvrouvertoning Magda Louw: ‘n Les in kletterkunde, besoek. Die gehoor in die saal by die
Weskusskool in Saldanha het hul mae vasgehou en trane van lag in dié pittige verhoogstuk afgevee.
Magda Louw, ‘n middeljarige vrou, het haar eie benadering oor veroudering, die verloop van tyd, ma-wees, die huwelik en die dood gedeel.
“Diep, maar met ‘n lag,” het ‘n lid van die gehoor dit beskryf.
Die een oomblik rol die trane van uitbundige lag, want dié vrou is snaaks. Die volgende oomblik word ‘n hartseertraan egter so onopsigtelik moontlik uit ‘n hoek van die oog gevee, wanneer sy oor ernstige sake en die verganklikheid van die mens praat.
Magda vat alledaagse gebeure en gewaarwordinge vas en beskryf dit soos dit is.
Van haar sêgoed, soos “As jy eers moet vra, weet jy klaar”, sal baie in die gehoor altyd bybly.
So ook die idiome wat sy verdraai en omdraai tot ‘n hoender soos ‘n heel ander ding lyk.
Die vertoning was vir die Weskustak van die Dameskring se jaarlikse geld-
insameling.



