Vredenburg-Saldanha Krieketklub (VBSKK) het Saterdag, 24 Januarie, ’n oortuigende oorwinning in die derde ronde van die Boland Premierliga behaal toe hulle Caledon Krieketklub (CKK) op hul tuisveld met 140 lopies geklop het.
Die sege plaas die Weskus-klub nou in die derde posisie op die punteleer, ’n belangrike hupstoot vir die Krewe in die Premierliga met die seisoen wat in Maart tot ’n einde loop.

Caledon het die loot gewen en VBSKK ingestuur om eerste te kolf. Die Krewe het van die begin af ’n stewige fondament gelê en ’n goeie telling van 247/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken.
Die hoogtepunt van die beurt was ’n briljante honderdtal deur Aviwe Mgijima, wat 100 lopies van 136 balle aangeteken het, met tien viere en twee sesse. Devon Smith (20) en Grislan Louw (22* nie uit nie) het goeie ondersteuning aan die beurt verleen. Mgijima se kolfbeurt het die toon aangegee en die Krewe die nodige stabiliteit gegee om ’n verdedigbare telling op die bord te plaas.
Vir Caledon was U. Benjamin-Joorst die beste bouler met ’n ontleding van 3/33. Randy Davids (2/33) en Lyle Smith (2/39) het Benjamin-Joorst goed bygestaan in die boulafdeling.
Caledon kon nooit regtig momentum opbou nie en is vir slegs 107 lopies uitgeboender. R. Pitcher het met 23* van 38 balle (drie viere) die enigste noemenswaardige bydrae vir CKK gelewer.
VBSKK se boulers het egter die oorhand gehad, met Riaan Smit wat 4/14 geneem het in 5,2 boulbeurte wat die tuisspan se weerstand gebreek het. Grislan Louw (1/20) en Thandani Majebe (1/15) het goeie ondersteuning aan Smit verleen.
Met ’n oortuigende sege van 140 lopies het die Krewe verseker dat hulle na die sesde posisie opskuif na drie wedstryde, en hul reputasie as ’n kompeterende span in die Boland Premierliga bevestig.
Met nog nege wedstryde oor kan die Krewe hulle posisie aansienlik verbeter oor die volgende 10 weke wanneer die seisoen op 28 Maart tot ’n einde kom.
Wedstrydbepalings vir 31 Januarie 2026:
Paarl KK t. Van Der Stel, Wellington KK t. Caledon KK, Worcester t. Victorians KK, Maties KK t. Young Peoples KK, Stellenbosch KK t. Paarl Oos KK, Coronation t. Vredenburg-Saldanha KK.





You must be logged in to post a comment.