VREDENBURG – ’n Hokkie in die agterplaas van ’n erf in Solomon Williamstraat in Louwville het vandag (Donderdag 10 September) omstreeks 12:00 aan die brand geslaan.
Volgens inligting wat omstanders aan Weslander gegee het, het ’n vrou en haar kind in die brand gesterf.
Inwoners het verder vertel dat hulle die rook van die brand gesien het en hulle na die toneel gehaas het.

Volgens hulle kon mense wat naby die struktuur was, egter nie help nie omdat die vlamme se hitte te intens was.
Met Weslander se aankoms op die toneel het talle inwoners rondom die perseel saamgedrom.
Noodpersoneel was ook op die toneel.
Dit was duidelik dat die familie van die oorledenes diep geraak is deur die tragedie.
Die omvang van die brand was duidelik op die toneel, met die struktuur wat heeltemal, tot op die grond, afgebrand het.
Inwoners wat op die toneel was, het ookbespiegel oor wat die brand veroorsaak het.

Sommige het hul afgevra hoe moeilik dit vir die ma en kind moes gewees het indien hulle wel binne die brandende struktuur vasgekeer was en dalk nie kon uitkom nie.
Die omstandighede rondom die brand en die presiese oorsaak van die sterftes is nog nie bekend nie. Die Vredenburg-polisie ondersoek die saak.





You must be logged in to post a comment.