’n Breë glimlag vul jou skerm – groot blink ogies vol hoop vir die toekoms. “Joshlin Smith, graad 1, vermis,” lui die inskrywing.

Meteens vul ’n somber gevoel die redaksiekantoor en begin die vrae en twyfel vastrap vind. “Here, nie nog een nie,” dink elkeen by haarself, steeds hoopvol dat sy by ’n maatjie gaan speel het en net vergeet het om iemand te laat weet. Teen donker sal sy terug wees.

Maar die aand breek aan en steeds is daar geen teken van haar nie. Waar kan sy wees?

’n Bekommerde ma met haar eie vrae en vrese, het onmiddellik haar kind as vermis by die polisie gaan aangee toe sy nie uitkom nie. ’n Ma weet. Die gemeenskap van Middelpos en Diazville het dadelik ingespring en begin soek. Teen skemer Dinsdagaand is elke huisie in die woongebied deursoek. Maar, helaas, geen teken van haar nie, asof haar spoor net daar voor haar huis verdwyn het.

Hoe? Hoe verdwyn ’n sewejarige meisietjie en niemand sien iets nie? vra jy jouself. Het dit al te algemeen geraak dat kindertjies alleen op straat rondloop dat niemand dit meer vreemd vind nie?

“It takes a village,” lui die gesegde, en dié gemeenskap het nou almal se gebede, ondersteuning, oë en ore nodig.

Onthou haar naam terwyl polisiebeamptes die ure voor haar verdwyning probeer peil: Joshlin Smith. Graad 1. Vermis.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article