Jamie Adams (57) vra diegene wat hy leed aangedoen het nederig om vergifnis. Foto: Noluvu Ludidi

Om op enige ouderdom ‘n moord te pleeg, is in die algemeen nie ‘n pad wat ‘n mens in die lewe wil volg nie.

Swaar omstandighede en ‘n moeilike lewe het Jamie Adams (57), ‘n Hopland-inwoner en selferkende bendelid, in daardie situasie geplaas. Adams het in die jong ouderdom van 19 sy eerste moord gepleeg, ‘n gebeurtenis wat hy nooit sal vergeet nie.

Volgens Adams het alles op vyfjarige ouderdom begin.

“Ek is na my ouma in Vredenburg toe gestuur toe ek vyf was. My ouma het op ‘n pensioen gelewe, so daar was nie veel kos in die huis nie. Ek was so goddeloos in daardie tydperk van my lewe dat ek gemaak het asof ek skool bywoon, by die hekke aangekom en oor die heining gespring het.”

Dit is hier dat Adams meer tyd saam met verkeerde vriende begin deurbring het.

“Daai tyd was die dorp nog nie so groot nie. Dit is op die ouderdom van 13 jaar dat ek begin het om saam met ‘n bendegroep, wat ons self gestig het, by huise in te breek. Ek is ook op daai ouderdom al tronk toe gestuur in Malmesbury en was betrokke by baie verkeerde dinge. In die nege maande wat ek daar deurgebring het, het ek begin sien hoe dinge in die tronk werk.”

Adams was daarna dikwels in die tronk. Op 16-jarige ouderdom is hy na ‘n verbeteringskool gestuur. Hy beskryf dit as die laaste plek van hoop waarheen kinders gestuur word. Hy het egter nie die kans gebruik om sy lewe om te draai nie, en het hom nie lank daarna nie in die Pollsmoor-gevangenis bevind. Vir sy wandade is hy 22 jaar tronkstraf opgelê. “Om hierdie dade te pleeg, het ‘n mens in beheer en goed laat voel.”

Volgens Adams was hy deur die jare al in tronkselle by verskeie gevangenisse. Toe hy in die Drakenstein Korrektiewe Sentrum (voorheen bekend as die Victor Verster-gevangenis) in die Paarl beland het, het bewaarders hom gewaarsku dat sy lewe aan ‘n draadjie hang.

Dit is hier dat Adams by een van Suid-Afrika se berugste bendegroepe aangesluit het. “Ons is opdrag gegee om bewaarders seer te maak en met hierdie dade deur die range te klim. Daar is dinge wat ‘n bende van jou verwag sodat jy deel kan wees van hul groep. As ek terugdink aan wat ek alles gedoen het, was dit nie slim nie.”

Adams sê wil hy jongmense waarsku oor die gevare wat die bendelewe vir hulle inhou. “Ek het gedink ek was baie slim en ek het ‘n ‘sterk’ houding gehad. Om met dwelms en verkeerde dinge deurmekaar te wees, het my niks in die lewe besorg nie. Mense het my gevrees wanneer hulle my naam gehoor of my gesien het. Maar, ek het besef dat daar ‘n ander manier is om respek van mense te kry, sonder om hulle seer te maak.”

Tans is Adams 17 jaar vry van dwelms – en die tronklewe.

Met eerlike, eenvoudige werk wil hy ander wys dat hulle beter besluite in die lewe kan neem. Wat vir hom wel ‘n kwessie van groot belang is, is die vergifnis van dié wat hy oor die jare seergemaak het.

“Ek wil vorentoe beweeg en nederig om verskoning vra. Die Here lei my op die regte wyse en dis die pad wat ek wil volg.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article