Die vervoer van die 140-ton vissersboot, die Creativity, het geweldig aandag getrek. Foto: Danie Hefers

Ná weke se beplanning, spanning en groot openbare belangstelling is die pelagiese vissersboot Creativity eers gistermiddag (Woensdag 4 Februarie) te water gelaat en nie vroegoggend soos aanvanklik beplan is nie.

Volgens die eienaar, Waldie de Wet, sou die 140-ton-vaartuig tussen 16:00 en 17:00 die water tydens gunstige getytoestande binnegaan. Creativity het gisteroggend nog stewig op die sleephelling in St. Helenabaai se hawe gelê, waar finale voorbereidings afgehandel is.

Weslander volg die boot se merkwaardige reis reeds sedert Maandag 26 Januarie toe sy die eerste keer uit die Sachal-skeepswerf in Vredenburg gestoot is.

Creativity is die afgelope Maandag (2 Februarie) padlangs teen ‘n slakkepas na die hawe vervoer – ‘n logistieke prestasie met bykans 200 wiele, ‘n platbak-vragmotor en tydelike Eskom-kragonderbrekings met die roete langs.

Honderde belangstellendes het langs die Vredenburg-Velddrifpad en by die hawe in St. Helenabaai saamgedrom om dié seldsame gebeurtenis te aanskou.

Benewens haar indrukwekkende grootte, is Creativity veral opvallend weens haar gevorderde tegnologie.

Die boot is volledig plaaslik by die Sachal-skeepswerf ontwerp en gebou en word beskryf as een van die mees tegnologies gevorderde pelagiese vaartuie tans op die Weskus. Die projek het in Maart 2025 begin en die vaartuig is toegerus met moderne elektronika, gespesialiseerde masjinerie en ‘n groot verkoelingsaanleg aan boord. Creativity sal deur ‘n bemanning van 12 mense bedryf word en is spesifiek ontwerp vir die vang van ansjovis en sardyne. Sy kan tot 350 ton ansjovis vervoer en stoor, wat haar ‘n waardevolle toevoeging tot die plaaslike pelagiese vloot maak.

Die hawe was gister besonder bedrywig aangesien twee ander nuwe bote, Rhoghaya en Fighting Lady van Umadala Fishing, ook hierdie week in gebruik geneem word.

‘n Amptelike inwydingsgeselligheid het tussen 11:00 en 14:00 by die Tallie Marine-skeepswerf plaasgevind, met rolspelers uit die visbedryf en regerings verteenwoordigers teenwoordig.

Vir De Wet en sy span is Creativity se tewaterlating die hoogtepunt van maande se harde werk.

En vir die Weskus-gemeenskap is dit ‘n trotse oomblik, ‘n tegnologies gevorderde vissersboot, gereed om haar plek in die see in te neem, waar sy hoort.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 February 2026
    Weslander E-Edition – 12 February 2026

Gift this article