Kapt. Andrew Prinsloo, die nuwe stasiebevelvoerder van die St. Helenabaai-polisiekantoor.

Om as stasiebevelvoerder van die St. Helenabaai-polisiekantoor aangestel te word, is ‘n groot eer vir kapt. Andrew Prinsloo.

Prinsloo het in 1994 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangesluit en in 2010 tydens vakansie in St.Helenabaai op die dorp verlief geraak. Dus het hy in 2012 die skuif van Vryburg in Noord-Wes gemaak en in 2012 by die St.Helenabaai-polisie ingeval.

Prinsloo het sy rol as adjudantoffisier vervul en is met sy nuwe aanstelling as stasiebevelvoerder tot kaptein bevorder.

Hy meen met die aanstelling kom groot verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap en dit stel hom in die posisie om positiewe veranderings te maak.

“My eerste prioriteit is om die St. Helenabaai-polisiekantoor se dienslewering aan die gemeenskap te verhoog, lede te motiveer om positief en gedisiplineerd te wees en te alle tye profesioneel op te tree – veral in die uitvoering van hul pligte. My doel is om die algehele voorkoms van die stasie te verbeter.”

Andrew Prinsloo, Stasiebevelvoerder van St. Helenabaai-polisie.

Vir Prinsloo kry alle misdade voorkeur.

“Tans is kontakmisdade van die hoogste misdade in die dorp. Drank- en dwelmmisbruik dra grootliks tot hierdie misdade by. Die polisie en die gemeenskap moet saamwerk om misdaad in ons gemeenskap te bekamp. Die polisie kan nie alleen funksioneer sonder die bystand van die gemeenskap nie.”

Prinsloo beplan om gereelde bewusmakingsveldtogte te hou en geïntrigeerde optredes in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum, Community in Blue-lede, buurtwagte, private veiligheidsmaatskappye en munisipale wetstoepassingsbeamptes te hou om dinge en mense wat misdaad laat gedy, te bespreek.

Hy sien uit om die uitdagings gepaard met die aanstelling aan te pak en om vertroue tussen die gemeenskap en die polisie te versterk.

“Ek wil ‘n voorbeeld wees vir my lede en hulle motiveer om die gemeenskap te alle tye te dien. Vertroue is ‘n baie groot woord en groot betekenis tussen albei partye. Vertoue moet verdien word deur positiewe aksie deur die polisie aan die gemeenskap.”

Prinsloo vra die gemeenskap om hom ‘n regverdige kans te gee om sy rol as stasiebevelvoerder uit te oefen.

“Die gemeenskap se vertroue in die polisie sal nie oornag gebeur nie; dit is ‘n proses. Ek vra die gemeenskap om betrokke te raak by gemeenskapsprojekte tussen saam met ons.

“My beleid is dienslewering aan die gemeenskap en om elke mens met integriteit te behandel.”

Prinsloo sê hy sien uit na sy nuwe rol en om ‘n positiewe verskil in St. Helenabaai te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article