Die liggaam van ‘n 69-jarige man is op Dinsdag 24 Maart by die treinspoor by die ou Chemfosmyn-perseel gevind.

Die identiteit van die oorledene is bevestig as Pieter Esau wat sedert Saterdag 21 Maart vermis was. Esau is op Maandag 23 Maart as vermis aangemeld nadat hy nie terug huis toe gekeer het nie. Dit is die tweede lyk wat in minder as ‘n week in die omgewing gevind is.

Weslander het op Maandag 23 Maart berig oor ‘n onbekende man wat in die veld naby die ou Jacobsbaai-landingsbaan gevind is.
Volgens Mertle Ockhuys, wat Esau as ‘n oupa beskou het, het hy by sy dogter in Green Villiage gaan kuier ten tyde van sy verdwyning.

Alhoewel Esau ‘n ligte vorm van Alzheimers gehad het, het hy gewoonlik met sy stappies altyd by Ockhuys se ouma opgeëindig, juis omdat hulle ‘n goeie band gehad het.

“Ons het gewag en gedink hy sou moontlik by my ouma opdaag, maar hy het nooit daar uitgekom nie. “Ons het ook gedink dat sy gedagtes hom sou terug vat na sy vrou se dood toe, en dat hy miskien by die begraafplaas sou wees, maar dit was ook nie die geval nie,” vertel Ockhuys.

Wyle Pieter Esau.

Sy het met Weslander gedeel dat die Vredenburg Soek en Reddingsdienste met haar kontak gemaak het, ná hulle afgekom het op klere wat soos dié van Esau gelyk het.

Volgens Edwina Boois, van die Vredenburg Soek en Reddingsdienste, het hulle op die klere afgekom naby die treinspoor. Die lyk slegs ‘n meter verder gelê. Boois sê Esau se dogter was saam met die reddingsspan en het inmekaar gesak toe sy haar pa sien.
Polisie is na die toneel ontbied.

Kol. Lindie Marx, die stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, sê geen onraad word op hierdie stadium vermoed nie. “Esau is as vermis aangemeld op Maandag en as gevolg van ‘n soektog deur die Vredenburg Soek en Reddingsdienste, het hulle hom toe gevind. ‘n Geregtelike nadoodse ondersoek word gedoen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article