Die volskaalse soektog na die vermiste sewejarige Joshlin Smith van die Middelpos- informele nedersetting by Saldanha gaan onverpoosd voort, met ’n helikopter van die polisie se lugvleuel-eenheid wat vandag (Donderdag 22 Februarie) die ander eenhede in die soektog bystaan.
Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het haar ma, Kelly Smith (33), haar al Maandagaand by die Saldanha-polisiestasie as vermis gaan aangee.
Daar is aanvanklik berig, ook in vandag se Weslander, dat Joshlin dié aand die laaste keer gesien is om 19:00 by die hokkie waar sy, haar ma, dié se kêrel, ene Boeta, en haar negejarige boetie en driejarige sussie woon. Helfrich het gesê dat daar soveel verskillende weergawes van gebeure is, dat dié feit ook nou in twyfel getrek word.
Ten tyde van haar verdwyning het sy ’n ligblou T-hemp en ’n ligblou denimbroek gedra.
Helfrich maan die publiek en sosialemediabeïnvloeders om nie die polisie se taak te bemoeilik deur allerhande bespiegelinge en onwaarhede rond te stuur nie. Dit ontstel elke keer die gemeenskap en belemmer die ondersoek.
Die polisie se sigbare polisiëring en rampbestuurpersoneel soek steeds na die kind. Die gemeenskap en ander organisasies het Dinsdag en Woensdag in groepe verdeel en groot dele van Middelpos gefynkam, sonder enige sukses.
Helfrich het benadruk dat niemand nog in verband met Joshlin se verdwyning in hegtenis geneem nie. Twee persone is wel ondervra en so ook verskeie ander rolspelers.
Indien iemand inligting het om die lede van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in hul ondersoek te help, bel asseblief die ondersoekbeampte in die saak, AO Meyer Millstein, by 079 879 8588.





