Weslander vergelyk die kospryse aan die Weskus.

Só ruk duur kos beursie


Die Weskus-kruidenierswaremandjie-opname deur dr. Clive Coetzee en sy gesin het nou sewe maande se data opgelewer. Julie bring die eerste noemenswaardige daling in brandstofpryse sedert die styging vroeër vanjaar, maar kruideniersware bly duur.

Die opname word maandeliks in Saldanha, Vredenburg, Langebaan, St. Helenabaai, Velddrif en Laaiplek gedoen. In Julie is pryse by 13 vulstasies en 14 winkels nagegaan.

Brandstofpryse daal

Die gemiddelde dieselprys het vir ‘n tweede agtereenvolgende maand gedaal, van R30,37 in Junie tot R26,87 per liter in Julie, ‘n afname van R3,50 of 11,5%.

Petrol het van R27,49 tot R25,53 per liter gedaal, ‘n afname van R1,96 of 7,1%.

Ten spyte hiervan is brandstof steeds aansienlik duurder as in Januarie. Diesel het sedertdien met 35,2% gestyg, van R19,88 tot R26,87 per liter, terwyl petrol met 26,3% gestyg het, van R20,21 tot R25,53.

Kospryse aan die Weskus
Weslander vergelyk die kospryse aan die Weskus.

Vir twee 50-liter-tenks beteken dit dat motoriste steeds R532 meer vir petrol en R699 meer vir diesel betaal as in Januarie. Vergeleke met Junie is daar egter ‘n besparing van R196 op petrol en R350 op diesel.

Velddrif het die laagste gemiddelde brandstofpryse gehad. Die laagste petrolprys was R25,50 per liter by Elegant en Engen in Velddrif.

Silo Total in Vredenburg het egter die laagste individuele dieselprys van R25,20 per liter aangebied. Langebaan het die hoogste gemiddelde dieselprys van R27,73 per liter gehad.

Kruideniersware stabiliseer

Die gemiddelde kruidenierswaremandjie het in Julie R1 022,02 gekos, net R2,22 of 0,2% meer as in Junie. Dit is die kleinste maandelikse styging van die jaar.

Sedert Januarie het die mandjie egter met 22,5% gestyg, van R834,56 tot

R1 022,02, ‘n toename van R187,46 vir dieselfde 20 items.

U-Save se winkels in Langebaan en Laaiplek was die billikste, albei teen R966,80. Spar in Vredenburg was derde teen R973,80. Checkers in Velddrif was die duurste teen R1 077,80, gevolg deur OK Minimark in Langebaan teen R1068,80 en Checkers in Vredenburg teen R1 064,80. Die verskil tussen die billikste en ­duurste mandjie was R111.

Velddrif se winkelpryse verander

Velddrif se posisie het opvallend verander. Toe OK Minimark vroeër vanjaar nog die dorp se enigste gemoniteerde winkel was, was dit onder die billikste dorpe. Sedert Mei word Checkers gemonitor, met ‘n Julie-mandjie van R1 077,80.

In Januarie het dieselfde mandjie by OK R859,81 gekos, ‘n verskil van R217,99.

Langebaan het in Julie die billikste gemiddelde mandjieprys per dorp gehad teen R1 013,81, gevolg deur Velddrif op R1 019,13. Saldanha en St. Helenabaai was albei R1 023,30, terwyl Vredenburg die duurste was teen R1 029,05.

Maalvleis was die grootste prysbeweger en het met 14,2% gestyg, van R115,99 tot R132,49 per kilogram.

Tamaties het daarenteen met 10,9% gedaal tot R29,28 per kilogram. Wortels het 6,4% goedkoper geword en uie 3,8%.

Grondboontjiebotter het met 6,5% gestyg, terwyl lendeskyf met 3,5% gedaal het.

Oor die sewe maande toon die data ‘n duidelike patroon: Brandstofpryse het ná ‘n Mei-piek begin daal, terwyl die kruidenierswaremandjie sedert Mei rondom R1 020 gestabiliseer het.

Vir verbruikers bly prysvergelyking belangrik. U-Save bied tans die billikste mandjie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 13 August 2026
    Weslander E-Edition – 13 August 2026

Gift this article