Dr. Clive Coetzee, senior lektor in ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit van Militêre Wetenskap in Saldanha, en sy gesin het oor agt maande brandstof-, kruideniersware- en eiendomspryse op vyf Weskusdorpe nagevors om ‘n beeld te kry van hoe die lewenskoste in die streek verander.
Die ondersoek, wat data van Januarie tot September 2026 insluit, toon hoe verskillende uitgawes oor dié tydperk verander het. Brandstof- en kruidenierswarepryse het skerp gestyg, terwyl die eiendomsmark ‘n opvallende toename in verkoopsaktiwiteit getoon het.
Coetzee, wat in Velddrif woon, het die plaaslike data saam met ‘n langertermynontleding van nasionale brandstofpryse gebruik om die Weskus se tendense binne ‘n breër ekonomiese konteks te plaas.
Brandstof en kos raak duurder
Die gesin het maandeliks brandstofpryse by vulstasies in Langebaan, Saldanha, Vredenburg, St Helenabaai en Velddrif aangeteken. In Januarie 2026 het petrol gemiddeld R20,21 per liter gekos en diesel R19,88. Teen Julie het die gemiddelde petrolprys tot R25,53 per liter gestyg, ‘n toename van 26,3%. Diesel het selfs sterker gestyg en R26,87 per liter bereik, 35,2% meer as in Januarie.
Die grootste enkele maandelikse verhoging het in April voorgekom. Petrol het met 15,4% gestyg, van R19,77 tot R22,81 per liter, terwyl diesel met byna 35% toegeneem het, van R20,67 tot R27,88 per liter.
Dit was volgens Coetzee se ontleding die grootste enkele maandelikse styging in die 14 jaar se nasionale brandstofprysrekord wat hy bestudeer het.
Die verhouding tussen petrol- en dieselpryse het ook verander. Voor April was diesel oor die algemeen goedkoper as petrol of min of meer dieselfde prys. Vanaf April het diesel egter aansienlik duurder geword. In Mei was die verskil R6,90 per liter. Teen Julie het dit tot R1,34 per liter gekrimp, hoewel diesel steeds die duurder brandstof was.
Die ondersoek na kruidenierswarepryse toon eweneens ‘n duidelike styging. Die gesin het ‘n mandjie van 20 basiese voedselitems by verskeie supermarkte nagegaan, waaronder Checkers, Food Lover’s Market, OK, Pick n Pay, Shoprite, Spar en U-Save.
Die gemiddelde koste van die mandjie was in Januarie R834,56. Teen Julie het dit tot R1 022,02 gestyg, ‘n toename van 22,5% binne ses maande.
Die grootste enkele maandelikse styging het tussen Februarie en Maart plaasgevind, toe die gemiddelde mandjie van R858,67 tot R990,08 gestyg het, oftewel 15,3%.
Hierdie styging het kort voor die groot brandstofverhoging in April plaasgevind. Hoewel die ondersoek nie op sigself bewys dat brandstofpryse die voedselprysverhogings veroorsaak het nie, wys dit op die belangrikheid daarvan om vervoerkoste en voedselpryse saam te monitor.
U-Save en Spar was deurgaans onder die goedkoper winkels, terwyl Checkers dikwels die duurste was. St Helenabaai het oor die algemeen die hoogste kruidenierswarerekening opgelewer, terwyl verbruikers in Saldanha en Vredenburg meer prysmededinging tussen winkels kon ervaar.
Eiendomsmark toon sterk groei
Die eiendomsdata toon ‘n ander soort beweging in die streek se ekonomie, met ‘n opvallende toename in die aantal aangetekende verkope. Die totale verkope oor die vyf dorpe het volgens die ondersoek van 59 in Januarie tot 1 405 in Julie toegeneem. Dit verteenwoordig ‘n styging van byna 2 300%.
Langebaan se verkope het van 21 tot 383 toegeneem, terwyl St Helenabaai van 14 tot 416 gestyg het. In Vredenburg het die aantal verkope van agt tot 186 toegeneem.
Die gemiddelde verkooppryse het egter nie oral teen dieselfde tempo gestyg nie. Langebaan se gemiddelde verkoopprys het met 15,7% toegeneem, van R2,075 miljoen tot R2,4 miljoen. Vredenburg het die grootste persentasietoename getoon, met ‘n styging van 96,2% vanaf R451 000 tot R885 000. St Helenabaai se gemiddelde verkoopprys het op ongeveer R700 000 gebly, terwyl Velddrif ‘n toename van 9,7% en Saldanha een van 22,4% getoon het.
Die syfers dui daarop dat die eiendomsmark oor die betrokke tydperk aansienlik meer aktief geword het, hoewel die prysbewegings tussen dorpe verskil het.
Weskus-data binne nasionale konteks
Coetzee het ook ‘n afsonderlike nasionale brandstofprysverslag saamgestel wat op sy YouTube-kanaal, View from Space, gepubliseer is. Die verslag ontleed amptelike brandstofpryse vanaf 2012 tot 2026.
Volgens dié ontleding het die nasionale petrolprys van ongeveer R10,31 per liter in 2012 tot R29,38 in Julie 2026 gestyg, ‘n nominale toename van 185%. Diesel het oor dieselfde tydperk met 209% gestyg.
Die verslag identifiseer vier belangrike tydperke van ontwrigting in die brandstofmark: die olieprysinestorting in Desember 2014, die afname in vraag tydens die Covid-19-pandemie in April 2020, die Russies-Oekraïense energiekrisis van 2022 en die groot prysverhogings tussen April en Junie 2026.
Laasgenoemde tydperk is volgens die verslag gekenmerk deur die uitwerking van konflik in die Midde-Ooste en plaaslike tariefverhogings, en het die grootste enkele maandelikse persentasieverandering in die 14-jaar-rekord tot gevolg gehad.
Die ontleding toon voorts dat die verskil tussen binnelandse en kusbrandstofpryse oor die jare toegeneem het. Waar die premie wat motoriste in Gauteng bo kuspryse betaal in 2012 ongeveer 14 sent per liter was, het dit gedurende 2025 en 2026 tot tussen 65 en 75 sent gestyg.
Die plaaslike en nasionale data toon hoe brandstofpryse, voedselkoste en ander ekonomiese faktore deel vorm van die finansiële druk wat huishoudings ervaar. Coetzee beplan om die Weskus-ondersoek maandeliks voort te sit sodat veranderinge oor ‘n langer tydperk vergelyk kan word.
* Die opgedateerde data sal op sy View from Space-YouTube-kanaal en in elektroniese sigblaaie beskikbaar gestel word. Coetzee het reeds meer as 23 wetenskaplike publikasies opgelewer.
LEES OOK: Kruideniersware-opname | Só ruk duur kos Weskussers se beursie





