Alida Buckle
Kelly Smith, Boeta Appollis en Steveno van Rhyn word dalk deur lewenslange tronkstraf in die gesig gestaar nadat hulle die afgelope Vrydag (2 Mei) op aanklagte van die ontvoering van Joshlin Smith en mensehandel skuldig bevind is.
Die houthok waarin Appollis, Smith en haar drie kinders in Middelpos gewoon het, is die aand ná die skuldigbevinding afgebrand – vermoedelik deur woedende gemeenskapslede. Die provinsiale polisie het die nuus in ‘n persverklaring bevestig en gesê ‘n vrou is intussen ingeneem vir ondervraging oor die brand.
In ‘n video wat reeds wyd op sosiale media versprei is, word gesien hoe mense luidkeels voor die brandende huisie juig en dans. Smith, Appollis en Van Rhyn se uiteindelike lot berus nou by regter Nathan Erasmus. Die hof gaan môre (Vrydag 9 Mei) in die Kaapse hooggeregshof in Kaapstad die nodige prosedures afhandel om op ‘n datum vir vonnisoplegging te besluit.
Die vonnisoplegging gaan weer in die Veeldoelige Sentrum in White City, Saldanha, geskied. Erasmus sal dan ook uitsluitsel gee of Lourentia (Renz) Lombaard, wat oorspronklik saam met Smith, Appollis en Van Rhyn aangekla is, vrygespreek gaan word, al dan nie.
Die staat gaan die voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf bepleit. Smith se ma, Amanda Daniel-Smith, het aan joernaliste gesê sy glo vas haar dogter weet waar Joshlin is.
Sy het beklemtoon die skuldigbevinding is nie wat sy wou gehad het nie. “My kleindogter is steeds weg.”
Netwerk24 het intussen berig dat Smith aan haar ma gesê het sy is van plan om vóór die vonnisoplegging haar sê te sê. Smith en haar medebeskuldigdes het almal gekies om hul swygreg tydens die verhoor uit te oefen ten spyte van haar belofte op die eerste dag van hul verskyning op 7 Maart 2024 – dat “die waarheid nog sal uitkom”. Smith het dié belofte gereeld aan joernaliste, die publiek en haar familie vóór en ná hofverrigtinge uitgespreek.
getuienis onbetwis
Die waarheid het steeds nie in die geheel uitgekom nie. Niemand weet nog waar Joshlin haar bevind nie.
Sy het as sesjarige op Maandag 19 Februarie spoorloos uit die Middelpos- informele nedersetting in Saldanha verdwyn.
Erasmus het Vrydag in sy uitspraak ‘n gewag daarvan gemaak dat die beskuldigdes nie op die aantygings teen hulle geantwoord het nie.
Die feit dat die beskuldigdes besluit het om nie te getuig nie, het volgens Erasmus Lombaard se getuienis onbetwis gelaat. Hy het gesê die hof kan sy eie afleiding maak oor waarom hulle gekies het om nie te getuig nie. “Daar kom ‘n tyd wanneer die bewyse ‘n antwoord vra.”
Volgens Erasmus het adv. Zelda Swanepoel en adv. Aradhana Heeramun, wat die saak namens die staat hanteer het, daarin geslaag om die beskuldigdes bo alle twyfel as skuldig te bewys. Smith, Appollis en Van Rhyn is skuldig bevind op aanklagte van ontvoering en mensehandel met die doel om uit te buit.
Hoewel die staat se saak hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis berus het – wat individueel dalk nie na veel lyk nie – het dit vir Erasmus soos die teëltjies van ‘n mosaïek of die stukkies van ‘n legkaart inmekaargepas. “Individueel lyk dit dalk nie betekenisvol nie, want wanneer ‘n mens getuienis evalueer, word gekyk na die integriteit daarvan.”
Hy het Lombaard se getuienis as betroubaar bestempel en puntsgewys uitgewys hoe haar weergawe deur ander getuies beaam is.
Stephen Coetzee, ‘n algemene werker van Diazville, se getuienis het vir Erasmus swaar geweeg. Erasmus het Coetzee se getuienis aanvaar dat Kelly in Augustus 2022 aan hom gesê het Middelpos en Diazville gaan vroeg in die volgende jaar “soos ‘n rolprent lyk” soos wat mense na haar kinders of een van haar kinders gaan soek.
Sy het gesê sy gaan die kind ver weg
stuur. Coetzee het as getuie ‘n gunstige indruk op Erasmus gemaak. “Hy het geen motief gehad om homself in hierdie situasie te plaas nie en niks gehad om daaruit te baat nie.”
plan bespreek
Appollis en Van Rhyn se bekentenisse, wat hulle op Dinsdag 5 Maart 2024 afgelê het en wat op video vasgelê is, staaf ook Lombaard se getuienis oor onder meer die bespreking van die “Die Plan” – die oorhandiging en betaling vir Joshlin.
Volgens Erasmus begin die aanloop na die verkoop van Joshlin al in 2018 met die Andrews-gesin wat toe al vir Joshlin wou aanneem. Smith en Joshlin se pa, Jose Emke, het egter geweier.
Daar is getuig dat Smith op 18 Februarie 2024 aan Boeta gesê het sy wil van Joshlin ontslae raak omdat sy moeg is vir die
Andrews-gesin en Emke wat die heeltyd die kind wil wegvat. Joshlin het skoolvakansies en naweke by Natasha Andrews en haar gesin deurgebring.
Erasmus het gesê die beskuldigdes se verskillende verklarings en getuienis gedurende die binneverhoor was onbestendig en hul tydlyn is glad nie sinvol nie.
Erasmus was nie beïndruk met Smith wat as ‘n ma nie gehelp het om na haar kind te soek en geen werklike belangstelling getoon het nie. Hy het haar ook oor die kole gehaal omdat sy die Maandagaand 19 Februarie eerder haar foon wou laai [as om na haar kind te soek].
Hy het ook verwys na Smith wat aan verskeie mense gesê het “die kind” het haar beroemd gemaak, emosieloos voorgekom en “soos ‘n baba geslaap” die dag nadat Joshlin weggeraak het.
Hy het gesê Smith se gedrag op 19 Februarie 2024, die dag toe sy Joshlin by die Saldanha-polisiekantoor as vermis gaan aangee het, is nie die gedrag van iemand wat nie weet waar haar kind is nie.
Erasmus meen Smith weet waar Joshlin is.








