Sandveld se aartappelboer van die jaar sê aanpassing is die sleutel tot die toekoms

Die volhoubaarheid van aartappelproduksie in die Sandveld raak die land se voedselsekerheid, aangesien dit die enigste streek met heeljaarproduksie is.
Die volhoubaarheid van aartappelproduksie in die Sandveld raak die land se voedselsekerheid, aangesien dit die enigste streek met heeljaarproduksie is.

Sandveld se aartappelboer van die jaar sê aanpassing is die sleutel tot die toekoms

Die volhoubaarheid van aartappelproduksie in die Sandveld raak die land se voedselsekerheid, aangesien dit die enigste streek met heeljaarproduksie is.
Die volhoubaarheid van aartappelproduksie in die Sandveld raak die land se voedselsekerheid, aangesien dit die enigste streek met heeljaarproduksie is.

LAMBERTSBAAI – Boerdery in die Sandveld gaan toenemend oor aanpassing, met veranderende weerpatrone, stygende insetkoste en ’n halfwoestynlandskap wat boere voor nuwe uitdagings stel.

DÍt is volgens SW van Zyl van Sandveld Aartappels, wat vanjaar as die 2026 Syngenta Nasionale Aartappelboer van die Jaar aangewys is.

Van Zyl, wat saam met sy vrou, Hannelie, en hul kinders op die plaas boer, het oor die jare van ’n beginner op 35 hektaar gegroei tot ’n produsent wat vandag sowat 550 hektaar plant.

SW van Zyl saam met Pieter Saaiman.
SW van Zyl (links) van Sandveld Aartappels, die 2026-Syngenta Nasionale Aartappelboer van die Jaar, saam met Pieter Saaiman (regs), Senior Gewas Adviseur by InteliGro, wat al drie dekades by aartappelboerdery in die Sandveld betrokke is.

Hy sê sy kennis is hoofsaaklik deur praktiese ervaring opgebou.

“Ek het in die boerdery ingegroei. Dit is die resultaat van een-tot-een-opleiding, praktiese kennis wat in die veld opgedoen is, en om jou hande in die grond te steek,” sê hy.

Van patats tot aartappels

Hoewel die Sandveld vandag bekend is vir sy aartappelproduksie, het dié bedryf eers in die laat 1960’s behoorlik begin ontwikkel.

Volgens Van Zyl was die streek aanvanklik hoofsaaklik ’n wêreld van patats, pampoene, boontjies en kleinvee.

Aartappels is destyds met die hand geplant, en met ’n graaf en vurk uitgehaal. Die aartappels is op die land geklassifiseer en in 15 kg-sakke gepak. “Dit was sommer ’n mooi produk as jy dit net uit ons sandgrond uitgehaal het,” vertel hy.

Sy skoonpa, Koos Louw, het destyds elke Vrydagmiddag die week se aartappels, soms tot 100 sakke, op sy Studebaker-bakkie gelaai en na Sandberg-stasie geneem. “Dit was moeilike tye. Elektrisiteit het die Sandveld eers in 1981 bereik.”

’n Streek in verandering

Vir Van Zyl is die grootste uitdaging vandag egter nie meer bloot die produksie van aartappels nie, maar die veranderinge wat die streek se klimaat en omgewing meebring.

“Ons as mense sal moet aanpas saam met plante en diere, want die toekoms bring ook nuwe uitdagings.”

Hy sê die inheemse plantegroei het die afgelope 25 jaar aansienlik verander, veral as gevolg van minder reën.

“Voorheen het ons inheemse bossiestroke gehad waardeur jy nie eers met ’n bakkie kon ry nie. Vandag voel ons die semiwoestyn is hier.”

Volgens Van Zyl het temperatuurveranderinge die afgelope vier tot vyf jaar al hoe vinniger begin intree.

“Vergeleke met die afgelope 10 jaar het die veld en temperature vanjaar laat voel asof ons aan die begin van Augustus reeds in die middel van Oktober was.”

Tegnologie en waterbestuur

Sandveld Aartappels produseer dwarsdeur die jaar hoofsaaklik vir die varsmark, met aartappels wat gewas, gesorteer en in verskillende verpakkingsgroottes voorberei word.

Die unieke sandgrond en nabyheid aan die see bring egter besondere uitdagings.

Van Zyl sê daar kan selfs binne dieselfde 10-hektaar-sirkel drie tot vier verskillende grondtipes voorkom, wat elkeen water en voedingstowwe anders hanteer.

“Daarom moniteer ons daagliks ons watergebruik met die hand.”

Hy beskryf waterbestuur as een van die belangrikste faktore vir die voortbestaan van die boerdery.

Tegnologie word ook ingespan om moontlike siektekolle en probleme vinnig te identifiseer, terwyl dekgewasse soos hawer help om die sandgrond te beskerm.

“Ons beskou besproeiing as ’n wetenskaplike uitdaging,” sê hy.

Die voortdurende styging in insetkoste maak die uitdaging nog groter. Volgens Van Zyl het brandstofprysverhogings alleen sy insetkoste met sowat R100 000 verhoog.

Saam met kundiges

Van Zyl beklemtoon dat ’n boerdery van dié omvang nie alleen bestuur kan word nie.

Hy werk nou saam met kundiges soos Pieter Saaiman, Senior Gewas Adviseur by InteliGro, wat al sowat 30 jaar by aartappelboerdery in die Sandveld betrokke is.

Saaiman sê die streek se veranderende omstandighede vereis deeglike beplanning.

“Daar is ’n plafon. As jy vandag volhoubaar wil boer, verg dit geweldig baie beplanning, selfs ’n jaar vooruit.”

Hy beskryf Van Zyl as iemand wat sterk op beplanning fokus.

“SW van Zyl ís sinoniem met beplanning. Dit is ’n eer om deel te wees van SW se groeipad en hierdie welverdiende bewys van sy harde werk, toewyding en passie vir die bedryf.”

Janco Cloete, InteliGro se Area Bestuurder vir die Wes-Kaap, sê Van Zyl is ook bereid om nuwe tegnologie en oplossings te toets.

Die gebruik van nuwe oplossings is volgens Van Zyl noodsaaklik, veral met peste soos die Tuta absoluta-mot wat ’n bedreiging vir voedselsekuriteit kan inhou.

’n Bedryf wat moet oorleef

Die volhoubaarheid van aartappelboerdery in die Sandveld het gevolge wat veel verder as die streek strek. Die gebied is een van die min streke waar aartappels die hele jaar geproduseer kan word.

Waar daar voorheen talle produsente was, is daar volgens Van Zyl vandag minder as 15 groot produsente oor.

Vir hom lê die antwoord in samewerking, kennis en die bereidwilligheid om aan te pas.

“Aartappels leer jou om nederig te wees. Dit is al wat ek nog my hele lewe leer en doen.”

Teen die muur van die pakstoor op Louwsrus hang twee van Van Zyl se rigtingwysers steeds prominent: “Hoe harder jy werk, hoe groter is jou kans op geluk.” en “Kyk vorentoe en wees opgewonde. Kyk terug en wees trots. Kyk op en wees dankbaar.”

Vir die 2026 Nasionale Aartappelboer van die Jaar is dit meer as net woorde. Dit weerspieël die ingesteldheid waarmee hy die Sandveld, die boerdery en ’n veranderende toekoms tegemoet gaan.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 3 September 2026
    Weslander E-Edition – 3 September 2026

Gift this article