GEORGE – Die Salkoriane-atletiekklub se meestersatlete het op die Suidwestelike Distrikte se meestersbaan- en veldatletiekkampioenskap, wat op Vrydag 2 en Saterdag 3 Oktober plaasgevind het, etlike medaljes verower.
Die atlete het hul klub se leuse, “Nie die grootste nie, net die beste”, op die nat Rosemoor-sportterrein uitgeleef deur goeie vertonings in verskeie items te lewer.
Hendrick Basson het ‘n bronsmedalje in diskus verower, terwyl Rencia Swartz drie medaljes gewen het. Sy het silwer in gewigstoot en brons in beide diskus en die verwante gewigstootkompetisie gewen.

Piet Dokter het goud in gewigstoot, silwer in spiesgooi en brons in diskus verower. Welize Dokter het eweneens ‘n indrukwekkende vertoning gelewer en vier silwermedaljes gewen – in gewigstoot, die verwante gewigstootkompetisie, diskus en spiesgooi.
Volgens die klub bevestig dié prestasies dat Salkoriane se meestersatlete steeds van krag tot krag gaan.
Die medalje-oes bied ook ‘n goeie grondslag vir die atlete van die Vredenburgse klub se voorbereiding vir volgende jaar se Suid-Afrikaanse baan- en veldatletiekkampioenskap, wat na verwagting in die Wes-Kaap aangebied sal word.
LEES OOK: Salkoriane-atleet skitter in Suid-Korea




