Drie lede van die Green Lillies-bejaardegroep van Vredenburg, Welize Burgess, Piet Dokter en Hendrik Basson, het die afgelope naweek saam met ander atlete van die Boland Meesters-span verskeie medaljes in Gauteng ingepalm. Die driemanskap het behoorlik hul merk gemaak by die 39ste Suid-Afrikaanse Meesters Atletiekkampioenskap (SAMA) wat van Donderdag 30 April tot Saterdag 2 Mei by die Germiston-stadion in Johannesburg gehou is.

Die Boland Meesters-span het 31 podiumplekke met 11 goue, 14 silwer- en 6 bronsmedaljes verower. Benewens Burgess, Dokter en Basson het die span bestaan uit Agnesse Scott, Kathleen Gey Pittius, Ingrid Crouse, Elmarie van Huysteen, Chris Pietersen, Anthony Solomons, Maurice Fortuin, Chavall Williams, David Ruiters en Dirk Odendaal, met Rochelle Tempies as spanbestuurder.

Atlete het deelgeneem aan verskeie items, waaronder die 100 m, 200 m, 400 m, 800 m, 1 500 m en 5 000 m, asook die 4×100 m-aflos (mans- en gemengde spanne), vyfkamp, diskus, spiesgooi, gewigstoot en hamergooi.

Basson het goue medaljes verwerf in al die items waaraan hy in die ouderdomsgroep 75-79-jaar deelgeneem het. Dokter het ‘n goue en ‘n silwermedale en Burgess ‘n bronmedalje in gewigstoot en gooi, spiesgooi en diskus verwerf. Hulle twee het in die ouderdomsgroep vir 70-75-jariges deelgeneem.

“Ons wil vir die jonges wys wat gedoen kan word,” is Burgess en Dokter dit eens. Hulle het vooraf met verskeie projekte geld vir dié uitstappie na Gauteng ingesamel.

Boland Meesters-bestuur het die span se vertonings as uitstaande beskryf en gesê hulle is trots op die toewyding en harde werk wat tot dié suksesvolle kampioenskap gelei het.

Piet Dokter, Welize Burgess en Hendrik Basson in hul Boland-kleure.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 7 May 2026
    Weslander E-Edition – 7 May 2026

Gift this article