Nog meer kommerwekkend was kommentaar dat ’n berig wat deur ’n nasionale digitale platform geplaas is, vals nuus is omdat dit nie deur ’n politikus op sy blad bevestig is nie. Die einste beweerde “vals nuus” is toe wel later op die politikus se blad bevestig.
Op daardie noot – ons ontken geensins dat ons soms foute maak nie, en hoewel die media se foute aan die groot klok gehang word is dit nie noodwendig ’n negatiewe ding nie. Enige opgeleide joernalis weet wat die standaard is waaraan beriggewing moet voldoen.
In die tyd van digitale media word dit al hoe moeiliker om altyd vir die amptelike polisieverklaring te wag. Nietemin sal geen geloofwaardige mediapublikasie ooit doelbewus iets publiseer wat (1) nie deur feite gestaaf is nie – hetsy deur ’n uiters betroubare bron of iets op skrif – en (2) die kredietwaardigheid van hul publikasie in die gedrang sal bring nie. Die kwessie is egter nie dat daar nie meer ’n behoefte aan koerante is nie, maar eerder of die behoefte aan geloofwaardige joernalistiek nog bestaan – ’n vraag wat Jan Alleman hom- en haarself moet afvra, maar die antwoord is een met morele en etiese implikasies.


