Redaksionele kommentaar | Editorial comment

REDAKSIONEEL | Geregtigheid eis spanwerk


Die gemeenskap raak moedeloos wanneer hofsake maande, of selfs jare, neem om afgehandel te word.

Vir slagoffers en hul families voel elke uitstel soos nóg ‘n onreg.

Tog is dit belangrik om te onthou dat die polisie nie alleen verantwoordelik is vir hoe lank ‘n saak duur nie. Ondersoeke verg getuies, bewyse en soms forensiese verslae. Daarna volg die vervolgingsproses, waar aanklaers en howe ‘n rol speel.

Die strafregstelsel bestaan uit baie skakels en wanneer een daarvan vertraag word, verloop die hele proses stadiger.

Dit beteken egter nie die gemeenskap is magteloos nie.

In die Weskus, soos in baie ander gemeenskappe, bestaan mense wat misdaad sien gebeur, maar uit vrees of wantroue verkies om stil te bly. Elke getuie, wat nie na vore kom nie, en elke stukkie inligting, wat nie gedeel word nie, kan ‘n ondersoek vertraag.

Dit is ook belangrik dat inwoners hul regte uitoefen om oor sake navraag te doen. As ‘n saak nie vorder nie, moet dit met die ondersoekbeampte bespreek word en, indien nodig, na die stasiebevelvoerder of speurtakbevelvoerder verwys word.

Verantwoordbaarheid is deel van ‘n gesonde regstelsel.

Veilige gemeenskappe word nie net deur die polisie geskep nie. Dit verg die same­werking van inwoners, buurtwagte, skole, organisasies en die regstelsel.

Wanneer almal hul deel doen, verbeter die kans dat geregtigheid nie net geskied nie, maar ook betyds geskied.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article