SALDANHA – Die ysterertsterminaal (IOT) by die hawe wat al 50 jaar in bedryf is, het sy jaarlikse instandhoudingsluiting begin wat tot Woensdag 21 Oktober sal duur.
Die terminaal sal gedurende die sluiting fokus op infrastruktuur-opgraderings, stofbestuurstelsels en die opknapping van sleutelmeganiese en elektriese komponente oor die terminaal se vraghanteringstoerusting.
Terminaalbestuurder Warren Kramer sê een van die belangrikste opgraderings is die installasie van ‘n nuwe misstelsel by die skeepslaaiers om stofvrystelling tydens laaibedrywighede verder te onderdruk. “Hierdie verbeterings vorm deel van die terminaal se deurlopende toewyding om lugkwaliteit te verbeter en aan omgewingsstandaarde te voldoen,” het Kramer gesê.
Alle belangrike belanghebbendes, insluitend kliënte, is oor die sluiting geraadpleeg. Dit bied ‘n geleentheid om kritieke instandhoudingsaktiwiteite te doen wat nie tydens die terminaal se weeklikse 12-uur-instandhoudingstye akkommodeer kan word nie.

As Afrika se grootste ystererts-uitvoerfasiliteit en Suid-Afrika se enigste toegewyde ystererts-uitvoerterminaal, hanteer die IOT meer as 50 miljoen ton per jaar en speel dit ‘n kritieke rol in die land se uitvoerekonomie. Beplande instandhoudingsingrypings is essensieel om langtermynbetroubaarheid te verbeter, bedryfsrisiko te verminder en toerustingprestasie te bevorder.
Die terminaal is een van vyftien terminale wat Transnet Port Terminals bedryf.
Synde die terminaal se swaar afhanklikheid van voerbandstelsels, sal hierdie jaar se program fokus op komponentvervanging; siviele werke; herstelwerk aan twee spoorwippers; instandhouding van skeepslaaiers en die emmerwielstruktuur van die stapelaar-herwinner.
Kramer het gesê die inbedryfstelling van die terminaal se nuwe derde wipper vorder goed, met toets- en optimaliseringsaktiwighede wat byna voltooi is terwyl die fasiliteit nader beweeg aan volle bedryfsgereedheid. Die nuwe wipper vorm deel van die onlangs voltooide R4 miljard Saldanha-infrastruktuurprojek, wat moderne toerusting en tegnologie ingevoer het om volhoubare vraghanteringsbedrywighede te ondersteun. Belangrike opgraderings sluit gevorderde nat en droe stofekstraksiestelsels in, asook verbeterde emissieonderdrukkingstegnologie by die spoorwipper.
Sedert die bedrywighede in September 1976 begin is, het die Saldanha-ysterertsterminaal meer as 1,4 miljard ton ystererts uitgevoer. Dit lewer ‘n beduidende bydrae tot Suid-Afrika se uitvoerekonomie en versterk die land se posisie in globale ysterertsmarkte.
Bykomende kapitaalprojekte wat daarop gemik is om emissies oor die volgende twee finansiële jare verder te verminder, is beplan.



