Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se twee Weskus-stasies by Mykonos en St. Helenabaai het oor die Paasnaweek drie reddingsoptredes uitgevoer.
Nic Stevens, die stasiebevelvoerder van NSRI Mykonos, het gesê die eerste oproep is Saterdag (4 April) om 11:45 ontvang.
‘n Boot het in die branders by Spreeuwalle, Paradise Beach, naby Langebaan in Saldanhabaai, omgeslaan. ‘n Tiener van 15 jaar oud en ‘n 57-jarige man is aan wal deur paramedici van West Coast Medical Rescue vir beserings behandel.
Die tiener was in ‘n ernstige maar bestendige toestand, en hulle is eers medies gestabiliseer voordat hulle na ‘n hospitaal op Vredenburg vervoer is.
Sondag (5 April) omstreeks 10:30, het die NSRI by ‘n rubberboot (rigid hull inflatable boat) met vyf bemanningslede by Sandbaai gehelp nadat die boot se enjin ‘n meganiese fout opgedoen het. Die boot is sonder verdere probleme veilig na die Alabama-sleephelling in Saldanhabaai gesleep.
Later die dag, om 13:00, het die NSRI ‘n man en sy jetski sowat twee seemyl buite Mykonos gehelp nadat die jetski se enjin die gees gegee het. Die bemanning van die Rotarian Burnett-reddingsboot het ‘n sleeptou gebruik en die jetski veilig na Mykonos se marina gesleep. Geen verdere hulp was nodig nie.
Stevens het beklemtoon dat NSRI altyd gereed is om strand- en seegebruikers te ondersteun, selfs tydens oefeninge en roetine-aktiwiteite.




